Woensdag, 07 Julie 2010 08:54
In my kerk is daar geen dak nie
Geen reliëf of skildery
Geen kandelaar wat hoog moet hang nie
Almal kan hier toegang kry
Want my koepel is die hemel
Hoog genoeg vir al die sterre
Breed genoeg vir die planete
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry
In my kerk is daar geen mure
Wat ‘n horison beperk nie
Daar's geen deure en geen slot nie
Geen register om te merk nie
Want die berge is die suile
Waar die arende kan skuilhou
Ja, die vlaktes is my vloere
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry
In my kerk is daar geen vensters
Wat met brandglaskleure blink
Geen nagmaalbrood wat jy moet breek
Of wyn wat iemand nog moet skink nie
Want in my kerk sien jy die kleure
In die skemer as die son sak
En die laaste wolke saampak
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry
In my kerk is daar geen koor of
Orrel wat die rus verstoor nie
Hier vra niemand vir jou geld nie
As jy bieg, sal niemand hoor nie
Want die storms is perkussie
En die wind wat nooit wil rus nie
Maak musiek in al die bome
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry.
Â
Coenie de Villiers





















