AddThis Social Bookmark Button
Frederick Marais is 'n gemeen­te­konsultant by Communitas in die Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode.

'n Tiener woon 'n beplanningsessie van 'n leiersgroep in die gemeente by. Haar lyftaal sê duidelik dat sy ongemaklik is om daar te wees. Die hele eerste deel van die vergadering is 'n wandeling in die Woord aan die hand van die Seisoen van Luister se luistersiklus.

Toe 'n oom namens haar vertel wat sy in die Woord gehoor het, en die vergadering haar perspektief met waardering ontvang, begin haar lyftaal verander en neem sy langsamerhand al hoe meer vrymoedig deel aan die vergadering. Haar idees is soms baie vreemd vir die ouer lede, maar gelukkig eggo die voorsitter die hele tyd haar bydraes om seker te maak dat sy gehoor word. Aan die einde van die aand sê sy by die teedrink: "Die eerste keer voel ek tuis in my eie gemeente."

Die taakspan van die Seisoen van Luister het einde Januarie dié jaar in Kemptonpark nagedink oor wat in gemeentes gebeur as leiers begin luister. Ons was verras met die verhale wat na vore gekom het. Hier is 'n paar van die gedagtes wat uit ons nadenke voortgevloei het, met die klem op wat met ons as leiers gebeur het. In meer as een opsig was dit 'n bekering vir ons.

1.       Luisterende leierskap in gemeentes vra vir 'n minder aktivistiese, bestuurs­georiën­teerde begrip van leier­skap

Luisterende leiers is leiers wat veral in vasgeloopte situasies met geloofsgeduld kan wag op God. Dit staan in kontras met probleemoplossende leierskap, en selfs sommige voorbeelde van visioenêre leierskap, waar die charisma van die individu die gemeente motiveer om probleme te oorkom.

Luisterende leierskap is primêr geloofsonderskeidend besig met vra na en oor God. Dit is leiers wat verstaan en leef vanuit die oortuiging dat God besig is met sending in die wêreld en ons nooi om daarvan deel te wees. Luister na God in gebed, afsondering, Lectio Divina, is die primêre vertrekpunte van luisterende leierskap.

Luisterende leierskap herstel eintlik die sabbat as die eerste ding wat ons moet doen - rus by God. Walter Brueggemann sê êrens dat die hou van die sabbat vir die ballinge 'n ritueel was wat hulle identiteit bewaar het. In die unieke ritmes van die sabbat het hulle telkens in die vreemde onthou wie hulle eintlik is - nie slawe nie, nie ballinge nie, maar die volk van God.

Om eers in en by God te rus en dan van­uit sy krag te leef, is wie ons is. Dit is veel méér as 'n strategie om oorlewing in 'n gejaagde tyd. Dit is om só gevestig te wees in ons identiteit in Christus, dat ons maar kan wag, geduldig met die sekere wete dat ons hoop in God is om die inisiatief te neem, en nie in onsself nie.

2.       Luisterende leiers wat leef vanuit die rus in God, verstaan dat God 'n missionêre God is

Om te leef vanuit die rus in God, beteken dat:

ons die lewende, handelende teenwoordigheid van Christus verwag en soek;

daar 'n bewussyn is dat die Gees 'n kragveld skep waarbinne die gemeente sy bediening kan leef en gestalte gee; en

ons ten diepste nie ons redding moet soek in die gawes en vaardighede van mense nie, maar in die wonderlik verrassende teenwoordigheid van God Drie-enig in ons gemeenskap.

Hierdie teologiese en ekklesiologiese vertrek­punte, stimuleer leiers om tel­kens te begin by 'n nuuskierige luister, uit­vra en soek na gestaltes van die teen­woordigheid van God. Dit is veral in die byeenkomste van leiers in vergaderings en byeenkomste waar sulke geloofsonderskeidende leierskap beoefen word. Dit is nie leierskap wat sy taak verstaan as die hekwagters van die Christendom wat in die eerste plek dink hulle moet vra wie en wat in of uit is nie. Dit is leierskap wat eerder geïnteresseerd is in wat God doen en hoe en waar God besig is om koninkryksgemeenskappe te vestig. Luisterende leierskap het daarom nie klaar uitgewerkte manuskripte van die lewe wat net uitgerol moet word nie, maar ontvang daagliks nuwe leiding van God.

'n Natuurlike verlengstuk hiervan is dat luisterende leiers in vergaderings oop is vir die ontdekking van hoe en waar God koninkryksgemeenskappe oprig en vergaderingsagendas kan verander. As dit waar is dat God handelend teenwoordig is in ons gemeenskap, kan dit eintlik nie anders nie as dat ons agenda reeds gedateer is teen die tyd dat ons bymekaar kom. Dit word dan eenvoudig onmoontlik dat 'n agenda van verlede kwartaal, of selfs verlede week, hierdie week dieselfde kan bly.

3.       Geloofsgemeenskappe word luisterende gemeenskappe wanneer hulle fokus op waardes, eerder as strukture

Wanneer 'n byeenkoms van leiers ooreenkom om waardes onderling na te streef, ontstaan daar 'n veilige ruimte waar magspolitiek en -debatte omvorm word tot dialoog.

Reëls is noodsaaklik, want dit omskryf die ooreenkomste wat ons met mekaar aangaan. Reëls kan egter nie die gemeenskap se identiteit definieer nie. Dit word hoogstens vanuit ons selfverstaan afgelei. Reëls kan daarom nooit normatief wees vir wíé ons is en wát ons moet doen nie. Indien ons toegee aan die gemak van 'n oriëntasie aan reëls, beïnvloed dit die gemeenskap van leiers nadelig. Dan word ons 'n soort kontrolegemeenskap wat in debatte oor die toepassing van die reëls vasval, en verloor ons ons visie op ons identiteit en toekoms. Deur egter op die onderliggende waardes van luister te fokus (leerbaarheid, vertroue, openheid en deernis), gaan daar ruimtes tussen ons oop waar ons begin om mekaar te hoor. Só word gemeenskap gebore. Dan kan ons tóg met mekaar oor ons skynbaar onmoontlike verskille gesprek voer, kan ons dit waag om die moeilike sake op die tafel te sit en hoef ons nie langer daarvan weg te skram nie.

Probeer dit gerus. Oefen die leiers in die gemeente in om mekaar op die waardes en nie op die reëls te wys nie, en kyk wat gebeur!

4.       Luister kom nie vanself nie, maar moet ingeoefen word

Luisterende leierskap is méér as 'n intellektuele instemming tot die belangrikheid van luister. Wie kan nou téén luister wees - veral as dit beteken dat ander na jóú sal luister? Leiers wat ingeoefen is in luisterhoudings en -vaardighede, laat luister groei en toeneem. Hierdie kapasiteit kom egter nie vanself, sonder die inoefening van die vaardighede, nie.

In die gereformeerde tradisie met sy groot klem op verkondiging, is luister 'n onderontwikkelde kapasiteit. Dit moet daarom op alle vlakke van leierskap ingeoefen word. Kyk gerus hoeveel woorde gebruik ons in ons byeenkomste, en hoe min luister werklik plaasvind. Dalk sal minder woorde ons help om dieper te luister!

5.       Luisterende leierskap keer voortdurend terug tot die Woord

In besluitneming word die Woord deur die werk van die Gees 'n aktiewe stem waarna geluister word. Dit is die bron van waaruit verbeelding gevoed word en waardeur nuwe rigting in vasgeloopte situasies ontdek word.

Die Woord is dus méér as 'n historiese dokument wat eksperts kundig bestudeer en waaroor hulle informasie inwin. As Woord van God aan die gemeente, is dit 'n lewende teks waardeur die Here binne 'n spesifieke konteks self met die gemeente praat en waardeur die gemeente getransformeer word. 'n Luisterende lees van die Woord skep die openheid om deur die Woord gevorm te word.

6.       Luisterende leierskap impliseer magsprysgawe

Luister is die prysgawe van die reg om te praat, die prysgawe van magsposisies van die bevoorregte ingewydes.

Dit is om in kwesbaarheid ontledig te wees van die beskerming van die tradisie en die instituut. In die ontlediging word ons kwesbaar. Só ontstaan daar ruimtes vir interafhanklike koinonia, wat nie bepaal word deur die sekulêre begrensing van mag en ekonomie nie. Luisterende leiers is nie net gasvry teenoor vreemdelinge nie, maar waag dit om sélf as vreemdelinge op die gasvryheid van die buitestanders staat te maak.

Hoe anders sou die tiener tuisgekom het by 'n kerkraadsvergadering as daar nie 'n leier was wat na haar geluister het nie?

Artikel het vroeër verskyn in Kruisgewys 9/2 van Mei 2009

Lewer jou kommentaar hier, asb.