AddThis Social Bookmark Button

Beste Kollegas

Die impak van die Seisoen van Luister is moeilik peilbaar of kwantifiseerbaar, aangesien dit in die Seisoen gaan om die kultuur van die kerk. Die kultuur van die kerk is nie altyd die eerste ding wat opval wanneer die kerk evalueer word nie. Trouens, kerke word meestal beoordeel aan die hand van die sigbare programme of die aktiwiteite waarmee hulle hulle besig hou.  Die begrip ‘kultuur van die kerk'  betrek egter die kollektiewe aannames  (diskoerse) wat daar in  ‘n bepaalde geloofsgemeenskap heers. ‘Heers' beteken dat hierdie kollektiewe aannames bewustelik of onbewustelik bepalende invloed het op alles wat die kerk doen, d.w.s  ook die sigbare doen en late van die kerk.

Dit blyk al duideliker dat die Seisoen van Luister weliswaar op ‘n aantal punte ‘n impak gehad het op die aannames wat in die kerk heers. Ek vermoed die volgende aannames het o.a. geskuif of is verryk,  as gevolg van onder meer die impak van die Seisoen:

  1. Die aanname dat jou Bybel gelees moet word en dat jy moet bid, het verder gegroei tot die oortuiging dat die leesgebeurtenisse ‘n werklike ontmoeting is met die sprekende God wat veral deur die Woord praat. Die waarde wat versterk is verteenwoordig ‘n skuif van plig en gehoorsaamheid na ‘n verbintenis om God self te hoor praat.
  2. Die aanname dat gelowiges saam die Bybel moet lees om dieper insig en breër perspektief op die bedoelinge van God te kry, is tot so ‘n mate versterk dat dit nuwe leesgewoontes help skep het waarin openheid vir die perspektief en insigte van medeluisteraars gesoek en omarm word.
  3. Die aanname dat die diversiteit van my leesgenote die hoor van God bemoeilik, is verryk deur die aanname dat die diversiteit van ons leesgenote juis ons insigte in die bedoelinge van God verryk.
  4. Die aanname dat Christus die hoof is van die kerk en dat kerklike vergaderinge ordelik en in debatstyl moet geskied volgens vaste voorafbepaalde agendas en ordes met die oog op die eer van die Hoof, is verryk met die aanname dat die lewende Christus in kerklik vergaderings teenwoordig is en dat  die vergadering in dialoog met Hom ,die hoof, en met mekaar kan geskied. Dit het daartoe bygedra dat vergaderings al meer beleef word as veilige ruimtes waarbinne gelowiges eerlik en met vertroue in mekaar, met mekaar  se belange en veral die koninkryk kan besig wees.
  5. Die aanname dat God sy kerk roep tot volgelingskap en diens is verryk deur ‘n dinamiese proses van herhalende fokus op God se bedoelinge, dit waarmee Hy besig is, en dit wat Hy sou wou sien gebeur in ons denke en lewe in verskillende kontekste.
  6. Die aanname dat geloofsgemeenskappe mense moet innooi,  is verryk met die oortuiging dat die kerk saam met diegene wat op die rand van geloofsgemeenskap staan, of hulleself ver buite die geloofsgemeenskap bevind, moet gaan staan en saam met hulle na die Woord moet luister en na God moet vra in hulle kontekste.
  7. Die aanname dat grense tussen mense statiese werklihede is wat van buite gelowiges opgelê is, is verryk met die oortuiging dat grense meestal deur onsself geskep en in stand gehou word. Die waarde van deernis en openheid word dus versterk met die oortuiging dat volgelingskap van Christus juis beteken dat ‘opgelegde grense' tussen mense uitgedaag en oorgesteek word.
Hierdie is maar 7 aannames wat deur die prosesse in die kerk en samelewing, maar ook deur die Seisoen van Luister verryk, verruim of selfs verander is. Daar behoort etlike ander aannames te wees wat ook deur hierdie prosesse verryk is. Hierdie uitkomste is nie vooraf uitgedink en bepaal nie. Inteendeel, ons word telkens verras deur die wyse waarop Christus sy kerk telkens vernuwe en laat groei. Die vier waardes van die Seisoen nl. leerbaarheid, deernis, vertroue en openheid is egter welliswaar versterk.
Die Vrou by die Put produk  bied nou ‘n unieke geleentheid aan gemeentes om die waardes van leerbaarheid, deernis, vertroue en openheid verder te versterk en te verryk. Die gewildheid van die produk (die derde oplaag is reeds gedruk) is ‘n aanduiding dat die kerk gereed is vir ‘n beweging oor grense.

Die terugvoer van diegene wat  die Vrou by die Put kursusse bygewoon het,  is baie positief. Ek glo dat oral in ons kerk en ons land mense aanvoel dat die evangelie nou van ons eis om hierdie beweging oor grense te maak, dit juis teen die natuurlike kragte wat mense van mekaar wil skei.  Polarisasie tussen  belydenismense en vrydenkers, ryk en arm, stad en platteland, bejaardes en jongmense, remtrappers en petrolgeërs, kerk en kerk, gemeente en gemeente, wit en swart,  hartmense  en kopmense ens. word aangespreek deur die evangelie van die oorsteek van grense. Die 6 sessies wat deur die produk  veronderstel word, bied geleentheid om oor al hierdie grense te praat. Deur die lens van die evangelie word nuwe gemeenskap geskep wat die polariteite afbreek en die gemeenskap van gelowiges, met die besef van die waarde van elkeen in die geloofsgemeenskap, versterk.

Die Pinksterreeks, "Stap saam met Jesus oor Grense," bied ‘n verdere geleentheid om die beweging oor grense aan te spreek. Die bedoeling is dat gelowiges na die pinksterreeks die koninkrykstyd sal gebruik om in diverse groepe wat vir die 6 weke saamgestel is, met behulp van Die  Vrou by die Put die grense tussen hulle en ander sal ontdek, verken en uitdaag.

Dit is belangrik vir die kerk om die tyd reg te lees, God se tyd. Waarmee is die Here hier besig? Wat vra hy van  ons? Waartoe roep Hy ons? Ons weet reeds dat ons saam hierdie vrae sal moet beantwoord, met mekaar, maar ook met ander wat anderkant ons huidige begrensdheid leef.

God praat, leef luisterryk!!

Nelis van Rensburg
Voorsitter Seisoen van Luister Taakspan

Lewer jou kommentaar hier, asb.