Newsletter Archive
Subject: Stap met Jesus oor grense
Send date: 2010-03-20 02:55:54
Issue #: 1
Content:

.

1

[DATE]

Beste [NAME]

Die tema van ons Pinksterreeks is: STAP MET JESUS OOR GRENSE.

Dit sluit direk aan by die kursus Die Vrou by die Put, wat tans landwyd in kleingroepe gebruik word.

Daar is reeds tien preekhulpe met eksegetiese riglyne op die webtuiste geplaas, sodat leraars kan begin voorberei.  Dit is net toeganklik vir geregistreerde gebruikers. 10 PowerPoint hulpmiddels daarvoor sal bykomend teen 9 April 2010 op die Seisoen van Luister webtuiste geplaas word.

Die wins van dié aanpak, is dat leraars by die webtuiste saam gesprek kan voer oor die temas, stories en illustrasies kan uitruil, in aanloop tot die 150 jarige viering van Pinksterdienste in ons land.

Klik onderaan enige artikel op Comments en lewer kommentaar.

Dit sal nie vanjaar in Kerkbode gepubliseer word nie.

Seisoen van Luister Taakspan

 

INLEIDING

Die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Verhoudings tussen mense is die plek waar ware gemeenskap gebeur.

Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging, en bereid is om grense oor te steek na ander, trek ons mense in, en gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.

Van die begin af was dit die patroon: waar gelowiges ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. in Handelinge 11 lees,  waar 'n paar onbekende Joodse gelowiges in Antiochië met die Grieke oor Jesus gesels het, kom daar 'n kerk tot stand. (11:19-20). En waar hulle dit nie gedoen het nie, het die kerk gekrimp of tot niet gegaan.

Ek wil jou dus uitdaag om 'n reis dié Pinksterweek met jou gemeente te onderneem.  Ons noem die reis: Stap met Jesus oor grense.

Vir 10 dae (of hoe lank jy ook al Pinkster gaan hou), gaan julle fokus op twee goed:

  1. die wyse waarop Jesus en sy kerk in die Evangelies en Handelinge grense oorgesteek het, en
  2. die mense wat die Here elke dag oor julle pad stuur, waarin ons self die grense sal ontdek waaroor die Here ons wil neem. 
Elke aand moet dus ook só ingerig word, dat daar tyd is om te gesels hieroor in groepe of deur getuienisse.  Die wêreld van die teks en die wêreld waarbinne ons leef, moet dus doelbewus in kontak met mekaar gebring word.  Dit is die enigste manier waarop ons regtig die voorbeeld van Jesus en sy kerk kan volg om oor grense te begin stap in ons eie wêreld.
Dit help baie om twee goed in gedagte te hou in ons gesels oor die kontak met mense:
  • Ontmoetings met mense is geskenke uit die hand van die Here.  Daarom vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons praat ook oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.  Die eerste fokus is dus die impak op jouself.
  • Telkens gaan ons egter ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  Die fokus is dus op die grense waaroor die Here jou wil begelei.
En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.  Kortom - ons gaan op reis met mekaar om 'n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.  Jy kan gerus die gespreksraamwerk vir dié gesprek gebruik.
Die tekste wat ons gaan behandel in die Pinksterreeks is só gekies dat 5 uit die Evangelies kom en 5 uit Handelinge. Saam met die ander drie Leesrooster preke in die Pinkstertyd (Hemelvaart - Handelinge 1:1-11 [3 Mei beskikbaar]; 7de Sondag van Pase -  Johannes 17:20-26 [3 Mei beskikbaar]; Pinksterfees - Johannes 14:8-17 [10 Mei beskikbaar]), gee dit jou genoeg materiaal om jou eie reeks saam te stel:

SKAKELS

1. Kapernaum – Jesus trotseer uitdagings in sy bediening

Markus begin sy evangelie op dramatiese manier.  Jesus word gedoop, versoek en begin preek: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie." (1:15).

Die basis vir sy bediening in die eerste deel van die evangelie is Kapernaum.  Dit is Jesus se tuisdorp, na Hy vroeër van Nasaret hierheen verhuis het.  Kapernaum, 'n groot en besige stad aan die See van Galilea, word die sentrum vanwaar Jesus opereer (2:1; 3:20; Matt 4:13).

2. Dekapolis - Legio word bevry tussen die grafte

Om hierdie gedeelte beter te verstaan help dit om die voorafgaande gebeure van die vinnig bewegende evangelie van Markus in gedagte te hou.

1.  In die eerste hoofdeel van die evangelie word die begin van Jesus se publieke bediening vertel: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.  Jesus fokus egter slegs op Jode in hierdie deel van sy bediening.

3. Nasaret - Jesus word verwerp in sy tuisdorp

Jesus se bediening het ‘n uitgebreide positiewe publieke impak gehad, soveel so dat Hy die verwonderde skares van tyd tot tyd moes ontvlug, sodat hulle Hom nie opeis vir hulleself nie.  Die hele landstreek Galilea het oor Hom gepraat (Mark 1:28) en baie mense het Hom gevolg sodat Hy soms in die oop veld gebly het (Mark 1:45).

Die toestroming het van alle kante af gekom, van Judea af, Jerusalem, Idumea en van oorkant die Jordaan, selfs van Tirus en Sidon af in die noorde (Mark 3:7-8).  Sy wonderwerke en deernis met mense het hulle soos ‘n magneet aangetrek "toe hulle hoor wat Hy alles doen".  Melaatses is genees (1:40-45), verlamdes kon weer loop (1:1-12), godsdienstige gebruike het nuwe betekenis gekry (2:18-28), ‘n storm is stilgemaak (4:35-41), besetenes is bevry (5:1-20), selfs ‘n dogtertjie is opgewek (5:41).

4. Siro-Fenicië - ‘n Hondjie eet krummels van die tafel

Markus verwys meer na Jesus se wonderwerke as na sy toesprake en ander optredes. Sodoende stel hy Jesus bekend as iemand wat 'n boodskap het, maar ook as die Een wat doen wat Hy sê. Deur sy optrede bevestig Jesus dat God se koninkryk aangebreek het en dat Hy, die Seun van die mens, waarlik die Verlosser is wat in die gestalte van 'n slaaf gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien (10:45). Dié boodskap moet aan almal, Jood en nie-Jood verkondig word. Daarom roep Jesus mense om saam met Hom hierdie onbekende en onbeminde pad te stap (1:14-20; 10:46-52). Dit is 'n pad wat vra dat hulle hulle sal verloën, hulle kruis opneem en Hom volg (8:34-35; 10:38 ev).

Hierin is Jesus vir sy dissipels 'n voorbeeld as hulle saam na twee Fenisiese stede, Tirus en Sidon, vertrek waar Hy eers die dogter van 'n nie-Joodse vrou en daarna 'n doofstom man gesond maak.  Tirus en Sidon was twee vooruitstrewende Fenisiese hawestede aan die Middellandse See. In Dawid se tyd was daar vrede tussen Tirus en Israel, maar mettertyd het Tirus berug geraak vir al haar sondes (Eseg 28:2; 21-23; 16:49-50). Matteus 11:21-22 vertel ook hoe dit vir die twee stede in die oordeelsdag draagliker sou wees as vir Gorasim en Betsaida. Die rede vir hierdie vergelyking is daarin geleë dat laasgenoemde Joodse stede was wat vertroud was met Jesus se wonderwerke. Tog het hulle nie tot bekering gekom nie. Tirus en Sidon, daarenteen, was heidense stede waar mense tot bekering gekom het by die aanskoue van Jesus se wonderwerke.

5. Samaria - Die vrou by die put drink lewende water

Dat Jesus deur Samaria moes gaan is nogal relevant - omdat dit beteken het dat Hy met ‘n kortpad (so ‘n 3-dag reis) na Galilea sou gaan.  Dit was nie iets wat die Jode maklik gedoen het nie, hulle het Samaria eerder vermy;  Samaria was ‘n "no-go" vir die Jode - ‘n area waar hulle gegril het vir die  "onsuiwerheid" van die Samaritane wat van 'n gemengde ras was.

Dit is eintlik altyd so as ons oor grense beweeg - mense is anders en doen dinge anders in "Samaria".  Daarom loop ons dikwels ‘n ompad eerder as om daar deur te gaan.

6. Jerusalem - Reg geskied aan die Griekse weduwees

Lukas, die enigste "heidense"  skrywer in die Bybel, skryf twee boeke in die Nuwe Testament: die Evangelie van Lukas en die Handelinge van die Apostels.

In die Evangelie van Lukas vertel hy die verhaal van die evangelie wat alle Jode bereik.

In die Handelinge van die Apostels vertel hy die verhaal van die evangelie wat alle kulture bereik.

Dit begin in Jerusalem, bereik die Griekse Jode, sprei dan na Samaria en bereik die baster-Jode.  'n Ethiopiese Jood volg, waarna die evangelie eenvoudige die kulturele en etniese walle oorspoel en regdeur Asië tot in Europa versprei.  Pragtig om te sien hoe die verhaal in Jerusalem begin en in Rome eindig - van Joodse hoofstad tot Wêreld hoofstad.

7. Ethiopië - Lig breek deur vir 'n minister van finansies

Handelinge kan opgedeel word in ongeveer 6 breë bewegings wat telkens afsluit met 'n paar opsommende opmerkings van Lukas oor die vestiging en uitbreiding van die woord van God en die getal gelowiges.

Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg: geografies, etnies, kultureel, eties,  intellektueel, en polities.

8. Seserea - Die Gees val op Kornelius die Italiaanse kaptein

Die worsteling met diversiteit is nie 'n nuwe ding nie. Inteendeel, dit is interessant as 'n mens terugkyk oor die afgelope 20 eeue, hoedat die geskiedenis van worstel met identiteit homself telkens herhaal.

Die sentrum van die Christelike geloof skuif gedurig.  Die Christelike geloof het 'n herhalende patroon waarvan die hartland gedurig aan't skuif is (Andrew Walls, The Cross-Cultural process in Christian History; studies in the transmission and appropriation of faith, 2002).

Tydens Jesus se hemelvaart was Jerusalem en Palestina die sentrum van die vroeë kerk. Ná die vervolging in Jerusalem begin (hfst. 7-8), vind die verspreiding van Christene oor die bekende wêreld van daardie tyd plaas. Só skuif die hartland van die Christelike kerk algaande na Klein-Asië, Europa, Rome, en ‘n paar eeue later na Egipte en Noord-Afrika. Dit beweeg oor geografiese, politieke, etniese en godsdienstige grense heen.

9. Filippi - Eerste Europese gemeente gestig met Lidia, 'n slavin en 'n tronkbewaarder

Lukas het nou by Paulus, Silas en Timoteus aangesluit in Filippi (hy skryf nou weer in die eerste persoon, ons),'n Romeinse kolonie in Masedonië.  Dit is ongeveer 50 of 51 n.C.  Daar was nie 'n sinagoge nie (jy het 10 mans nodig gehad daarvoor) en daarom het die Joodse gelowiges, ons lees hier net van vroue, moontlik getroud met Grieke, by 'n bidplek by die rivier, die Gangitis, vergader.

Die eerste Europeër wat glo, is 'n vrou

En dan gebeur die wonder, die hele Europese kerkgeskiedenis begin met 'n eenvoudige verhaal van 'n vrou, nogal ryk ook, wat langs 'n rivier in Jesus begin glo.  Ironies dat 'n Masedoniese man Paulus in 'n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling 'n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.

10. Atene - In gesprek met die Intellektueles

In sy bekroonde boek Wie was Jesus regtig? waarsku Francois Wessels dat daar in Suid-Afrika dikwels meer met die hart as die verstand geglo word.  So verplaas gelowiges dikwels die openbare gesprek wat ons geloof moet verantwoord na ‘n private innerlike ruimte. Hy noem dit 'n intellektuele emigrasie.

Dit is só anders as wat ons hier van Paulus sien.

Ek wil:

1.      stilstaan by dié gedeelte en die betekenis daarvan ontsluit vir ons, en dan aan die einde

2.      ‘n paar opmerkings maak oor die redelikheid van ons geloof.

Gespreksraamwerk vir die Pinksterdienste

Blote kennis help nie regtig baie ver nie.  'n Mens moet saam met die kennis en in afhanklikheid (houding) van die Gees vaardighede aanleer, soos om te let op die mense wat oor jou pad kom.  Soos jy dit inoefen en dit 'n gewoonte raak, so begin jy leer hoe dit werk om oor grense te gaan.  En die wonder is dat só 'n gewoonte vir ander ook geleer kan word (oordraagbaar).

Simbole, rituele en gebruike met Pinkster

Die kerk het tradisioneel lidmate op hierdie dag gedoop wat nog nie met Paassondag gereed was nie. Die viering van die verjaardag van die kerk is inderdaad ‘n goeie tyd om ook die geestelike geboorte van nuwe Christene te vier!

Vir reeds gedoopte lidmate is dit weer ‘n goeie geleentheid om hulle doopbeloftes te hernuwe met ‘n doopvieringsritueel. Dit is ook die gebruik dat daar in die tyd aalmoese uitgedeel word aan die armes. Spesiale klem is ook in dié tyd gelê op gasvryheid aan vreemdelinge.

Die 1860 Herlewing en die Pinksterbidure in SA

Prof Attie Barnard skryf in "Eeufees van die Pinksterbidure 1861-1961" dat die herlewing in die VSA sy ontstaan gehad na jare van "diepe geestelike insinking en 'n geestelike doodsheid en agteruitgang op verskillende terreine van die godsdienstige lewe. Hierdie agteruitgang het saamgehang met 'n tydperk van groot finansiële teenspoed." Veral 'n ongekende finansiële ineenstorting aan die einde van die 1850's in die VSA het mense laat gryp "na dié God vir wie hulle in 'n tyd van voorspoed opsy geskuif het..."

Berigte wat oor die herlewing in kerklike tydskrife en die sekulêre pers in Suid-Afrika verskyn het, het ook hier in Suid Afrika 'n verlange laat ontstaan na herlewing. Dit in 'n tyd toe ons samelewing o.a. gekenmerk was deur 'n "dorheid en doodsheid op geestelike gebied."

Pinksterbidure in die NG Kerk

Die tien dae tussen die Hemelvaart en Pinkster het die karakter verkry van ‘n tyd van afwagting tot die Gees die Kerk nuut maak en uitstuur. Pinksterbidure het in die NG Kerk-familie so ‘n tyd van afwagting geword. Die bidure is egter nie ‘n gebruik in die res van die wêreldkerk nie.

In 1860 het groot herlewings in die Kaapse NG Kerk-familie begin opvlam. Andrew Murray het 'n groot aandeel gehad dat hierdie herlewings sterk sendinggerig was. Die herlewing het oor die hele land versprei.

Gebed en die werking van die Heilige Gees is beklemtoon. In sommige gemeentes is daagliks vir gebed bymekaargekom. Dit is hoe die Pinksterbidure ontstaan het. Dis daarom belangrik om in Pinkstertyd besondere klem te lê op ons getuienis na buite, en voorbidding vir sending en plaaslike sendingaksies te doen. Soos God vir Jesus gestuur het, stuur Hy ons nou verder met die krag van sy Gees.


Jou Subskripsie:

1

.

Powered by Joobi