Produkte

AddThis Social Bookmark Button

Agtergrond:

Gedurende die gemeente se reis saam met Gestuurde gemeentes, het ʼn bepaalde kernwaarde deel van ons verhaal geword, naamlik dat die gemeente nie aan onsself behoort nie, maar aan hulle wat nie hier is nie en wie ons graag sou wil laat deel hê aan. Die waarde van ʼn geduldige luister en saam wag op die Here, het deel van die leierskapkultuur geword. Dit het daartoe gelei dat ʼn kultuur van openheid sterk begin posvat het. Gesprekke is ook in hierdie tyd met die personeel gevoer en ons het gesels oor die waarde dat elkeen van ons ʼn rol speel in die reis van die gemeente. 

Die Here skep ʼn gaping:

In die laaste kwartaal van 2008 daag daar een oggend ʼn span swart, Engelssprekende mense, o.l.v. past. Maureen, by die kerk op met die doel om te reël wanneer presies die kerk beskikbaar is vir hulle byeenkomste. Een van die leraars was op daardie stadium alleen by die kerk en ontvang hulle toe. Dit blyk toe uit die gesprek wat volg, dat daar ʼn persoon ʼn paar dae vroeër by die kerk was toe hulle navraag gedoen het oor die moontlikheid van die gebruik van ʼn lokaal vir hulle byeenkomste en dat sy onmiddellik  dit aan hulle duidelik gemaak het dat hulle meer as welkom sou wees en dat ons net gesprek moet voer oor die praktiese uitvoering daarvan, gesien dat die kerkgebou wel beskikbaar is na die Afrikaanse eredienste Sondae. 

Die gemeentekoster werk in God se oomblik:

Die persoon wat hierdie gesprek gevoer het, was die gemeente se koster. Sy het die vrymoedigheid gehad om hulle uit te nooi omdat sy daartoe bemagtig is. Sy het reeds verstaan dat haar rol nie geleë is in die oop- en toesluit van lokale nie, maar dat sy ʼn gasvryheidsbestuurder is. Die leiers van die gemeente het reeds aangeleer om altyd te vra wat God besig is om te doen en hoe ons daarby as gemeente kan inskakel. Daarom het die koster die vrymoedigheid gehad om “sonder toestemming” voort te gaan met die gesprekke en om hulle gasvry te ontvang.

Die leiers leer weereens dat ons net kan fokus op wat God reeds doen:

Ons is geweldig hierdeur verryk, want as leiers is ons reeds lankal besig om te vra wat God doen en terselfdertyd ʼn proses probeer aan die gang sit in samewerking met die ring, asook die VGK met die doel om ʼn multikulturele bediening te vestig. Hierdie gesprekke vorder egter baie stadig en die gebeure by ons gemeente het ons weereens laat besef dat die Here self sy werk doen. Die gemeenteleiers het vasgeloop gevoel, maar die gemeente behoort nie aan ons nie en die Here stuur die swart vennote vir ons. Indien die koster egter nie reeds deel was van die proses en hierdie kultuur nie, sou sy na alle waarskynlikheid die boodskap deurgegee het dat die kerk nie op Sondae beskikbaar is nie, die gaping wat die here moontlik gemaak het, is herken en benut.

Lewer jou kommentaar hier, asb.