Maandag, 30 Maart 2009 11:03 Laas Opdateer op Vrydag, 26 Maart 2010 10:30
Grense tussen mense verhoed dat hulle mekaar hoor. Dit skep afstand en polarisasie. Dit kweek wantroue en versterk ’n gebrek aan deernis. Grense veroorsaak dat die oordrag van Christus se liefde ingeperk word en die vrye uitdeling daarvan verhoed word. Ons is dus seker dat ons moet handel met ons begrensdheid. As dit in die weg staan van die koms van die Koninkryk en egte ontmoetings met mense, moet ons iets daaraan doen.
Ons het die afgelope drie jaar baie geworstel met Christene se begrensdheid. Waarom is dit so ‘n algemene neiging dat ons onsself afgrens? Hoe deurbreek ‘n mens jou begrensdheid? Wat kan ons doen om sonder ons vooroordele, onbevange te luister na mense? Is dit moontlik om jou vooroordele op te skort met die oog op luister? Is daar onderliggende vrese waarmee ’n mens moet handel wanneer jy na vreemde stemme luister om seker te maak dat jy reg hoor? Wat leer die Bybel oor bewegings oor grense? Dit is van die vrae waarmee ‘n taakgroep van die Seisoen van Luister al vir lank besig is. ’n Verskeidenheid mense is geraadpleeg- jong mense, swart- en witmense, vroue, mans, mense met verskillende oortuigings. Verskeie bronne is geraadpleeg en talle modelle is oorweeg. Uiteindelik het ons opnuut verstaan dat die oorsteek van grense ’n eg Christelike beweging is. Dit is wat Jesus immers doen. Ons het onder meer Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou by die put goed bedink en opnuut geleer wat ware dissipelskap beteken.
Ons het deur die hele proses baie geleer oor luister. Ons het besef dat mense grense trek om hulleself te beskerm. Ja, die meeste van ons grense is inderdaad selfgetrekte grense. Baie van die grense waaroor ons die ernstigste voel, is nie deur God getrek nie, maar is die resultaat van eie angs vir verlies. Ons het begryp dat die eerste grense wat oorgesteek moet word altyd eie selfgetrekte grense is. Oorskreiding van grense vra dus ’n stuk selfbekering. Ons het tot die insig gekom dat ’n mens inderdaad jou vooroordele kan opskort. Ons verstaan ook dat wanneer mense bymekaar broos is, hulle beter kan hoor. Broosheid skep veilige ruimtes waarbinne mense vertroue het dat hulle nie gekwets sal word nie, maar verstaan sal word. Ons het geleer dat die mense buite die eie kring wat jy ontmoet, die bevestigers van jou eie identiteit word. Ons het by Jesus geleer dat in die oorsteek van grense die vreemde liefde en genade van God duidelik sigbaar en tasbaar word.
Ons het ’n keuse gemaak vir ’n bepaalde hermeneutiese benadering in ons beweging oor grense. Ons verstaan dat mense na die beeld van God geskape is. God ontmoet ons deur ander mense. Wanneer ons mense ontmoet, is ons dus veronderstel om te vra na die betekenis van die ontmoeting. Wat kon ons van God sien? Wat het God met ons laat gebeur in die ontmoeting? Hoe is ek geruk, getroos of geseën in my ontmoeting met hierdie mense? Wat moet in my verander? Wat is in my bevestig? Ons doen dus eksegese van die ontmoetings wat ons met mense het. Onthou: die slagspreuk van die Seisoen is: God Praat! Leef Luisterryk! Ons het in die eerste bewegings van die Seisoen opnuut verstaan hoe God met mense deur die Woord praat. Ons het ook verstaan dat Hy ook deur ander met ons praat. Ons het hieroor nou baie verder gedink.
Die opwindende is dat daar in die ontmoeting met mense altyd oor grense beweeg word. Soms is dit kulturele- of ekonomiese- of generasie- of kerkgrense. Ander kere is dit gewoon oor die grense van persepsies en vooroordele. Ander kere is dit oor die grense van eie belang. In hierdie bewegings oor grense na mekaar kan die stem van God onderskei word en is egte navolging die resultaat.
Ons het met al hierdie insigte ’n “groei oor grense siklus” geskep met drie bewegings nl. ontvang, ontgin, ontplooi. Ons het ook ’n proses ontwikkel van ses ontmoetings in klein groepies waar mense saam bewegings oor grense kan beleef. Hierdie groepe kan divers of meer homogeen saamgestel word. Johannes 4 word as basisteks gebruik en verhale van ons ontmoetings met mense word vertel. Ons toets in die komende kwartaal die plan landswyd in ongeveer 30 groepe. Nadat ons die terugvoer uit hierdie groepe verwerk het, finaliseer ons die produk vir vrystelling, hopelik in September. Ons sal poog om so wyd as moontlik opleiding te gee in die benutting van hierdie luistervaardighede. Ons hoop die Here sal Groei oor Grense (skrywers Chris van Wyk, Frederick Marais en Nico Simpson) ruim gebruik om ons almal te vernuwe na Sy beeld.
Nelis van Rensburg
Voorsitter Seisoen van Luister





















