AddThis Social Bookmark Button

Ons gebruik ’n meesterverhaal, dié keer nie ’n hoofstuk of boek in die Bybel nie, maar ’n karakter in die Nuwe Testament, Barnabas.  Barnabas is een van die onvertelde en onderskatte verhale in ons Bybelse biblioteek.  Hy is egter by uitstek iemand wat wys hoe ’n lewenstyl gevorm word deur die geestelike gewoontes wat jy beoefen:

  • Die Here kon Barnabas se dankoffer gebruik om die eerste gemeente finansieël te bemoedig en te laat oorleef.  Sonder sy vrygewigheid sou die gemeente baie moeilik ‘n basis kon wees vir die eksponensiële groei van die koninkryk in die eerste paar dekades van ons jaartelling.
  • Die kerk kon Saulus en sy bediening aanvaar weens Barnabas wat hom gasvry ontvang het en só vir Saulus as borg in  die eerste gemeente opgetree het.  Daarsonder sou die kerk baie maklik eksklusief-Joods kon bly en kon kies om nie grense na ander oor te steek nie.
  • Die jong Johannes Markus het in Barnabas ‘n begeleier en mentor van formaat gevind wat hom deur sy gawe van bemoediging in staat gestel het om nie net uiteindelik met Paulus te versoen nie, maar ook die eerste en oudste evangelie te skrywe.  Sy evangelie skets die eerste koherente prentjie van Jesus wat deur die ander sinoptiese evangelies as bronteks gebruik is.

Barnabas het ‘n fenomenale bydrae tot die eerste kerk en die vestiging van die koninkryk gemaak.  Woorde ontbreek eintlik om sy bydrae na waarde te skat.

Hy was veral ‘n Bemoediger, soveel so dat dit sy bynaam geword het.  Hy was ‘n Borg vir Saulus, ‘n Brugbouer in Antiogië, ‘n Bemagtiger van Saulus as leraar, ‘n pionier Bedienaar van die evangelie aan die heidene en ‘n bobaas Begeleier van jong gelowiges.

Barnabas is dus vir almal van ons ‘n voorbeeld van iemand wat sy arsenaal van gawes – bemoediging, vrygewigheid, gasvryheid, begeleiding – tot voordeel van die kerk en in diens aan die Here aangewend het.  Hy illustreer vir ons hoe ‘n Christelike lewenstyl werk.

Of ‘n mens nou kan peil trek op die 6de eeuse monnik van Siprus, Alexander Monachus, se beskrywing van Barnabas al dan nie – “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes” (Laudatio Barnabae, 25) – Barnabas verdien ‘n plek in die harte van Christene wêreldoor as ‘n man wat  uitnemend geslaag het daarin om sy gawes in diens van sy roeping in die kerk en koninkryk in te span.  Hy is ‘n ware stigterspionier van die kerk van Christus wat meegewerk het aan sy wêreldgestalte.

Lewer jou kommentaar hier, asb.