AddThis Social Bookmark Button

Die belangrikheid van die boek Handelinge vir die kerk kan nie oorskat word nie.

Dit is nie om dowe neute dat dit geplaas is ná die Evangelies en voor die Briewe nie, hoewel ‘n mens dit ook sou kon plaas direk na die Evangelie van Lukas, weens die intieme verband tussen die twee boeke.  Dit funksioneer op sy huidige plek in die Nuwe Testament as ‘n skakel tussen die Evangelies, die bediening van Jesus Christus, en die Briewe, wat die gevolge daarvan vir die wêreld verduidelik.

Dit is ook belangrik omdat dit ‘n historiese raamwerk verskaf wat die temas en inhoud van die Briewe in die historiese konteks begrond, bv. Handelinge 16 wat agtergrond vir die brief aan die Filippense verskaf, en Handelinge 17 vir die briewe aan die Tessalonisense ensovoorts.

Die belangrikste rol wat Handelinge speel is egter die ekklesiologiese prentjie wat dit aan die een kant gee van die vestiging, ontwikkeling  en groei van die eerste gemeentes, die tipe lewenstyl wat hulle bemeester het, en aan die ander kant die Trinitariese perspektief wat dit gee op die werk van God en dan algaande meer spesifiek die rol van die Heilige Gees in die uitbreiding en vestiging van die koninkryk van God deur die werk van die gelowiges en gemeentes en soms engele.

Lukas , die skrywer van die evangelie van Lukas sowel as van die Handelinge van die apostels, was ‘n dokter wat Paulus soms vergesel het – Kol 4:14 – die enigste Christelike outeur uit die “heidene” in die Bybel.

Sy 2 boeke is heel moontlik na die val van Jerusalem in 70 n.C. geskrywe aan Christene uit die heidense nasies. Dit word gerig aan Teofilus, andersins onbekend, wat heel moontlik die publikasie onderskryf het.  Lukas plaas die verhaal van die Evangelie in die konteks van die wêreldgeskiedenis en sluit die voortgaande bediening van die Gees in die kerk van die begin af in.  Die kerk is vir hom die plek waar alle Jode welkom is, daarom word bv. spesifiek aandag gegee aan die stories van vroue.

Handelinge is deel twee van Lukas, wat die storie van redding deur Jesus vertel soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome.  Die kerk is vir Hom die plek waar mense uit alle kulture welkom is (akkulturasie), maar ook deur die evangelie verander word (inkarnasie).

Lukas beklemtoon in hierdie boek:

  • Die goeie nuus van God se redding deur Jesus is vir beide Jode en heidene.
  • Die Ou Testamentiese beloftes word daardeur vervul.
  • Die Heilige Gees begelei die kerk in die verspreiding van die evangelie.
  • Die kerk val in by God se reddingsplan wat die heidene insluit.
  • Hierdie redding is God se saak en niks kan dit keer nie.
  • Die goeie nuus word deur sommige met vreugde aanvaar en deur ander met woede verwerp.

Lukas laat die twee dele van sy verhaal – Lukas en Handelinge – baie vernuftig met mekaar korrespondeer.

Handelinge 1-12 vertel van die verspreiding van die evangelie en korrespondeer met Lukas 1-9 – die geografie is net omgekeer: dit begin in die stad Jerusalem en versprei na die platteland in Judea.  Barnabas se vrygewige grondverkoop transaksie, sy gasvrye insluiting van Saulus in die gemeenskap van die gelowiges, sy bemoedigende missie om die eerste leraar van die grensoorskrydende gemeente in Antiogië te word, en sy selflose begeleiding en bemagtiging van Saulus as eerste medeleraar, en sy barmhartigheidsending na Jerusalem om die dankoffer van die gelowiges uit die heidene vir die eerste gemeente te bring,  vind alles plaas in hierdie fase van die verspreiding van die evangelie.

Lukas gebruik Barnabas se verhaal om te demonstreer hoe die Gees gawes gee en gebruik – beide in terme van geestesgawes en mense as gawes – om die evangelie te laat versprei.  Barnabas se verhaal dra net soveel by, indien nie meer nie, as die verhale van Filippus en Petrus om hierdie fase in die ontwikkeling van die Christelike kerk te beskryf.  Dit is die fondasie waarop die werk van Saulus gebou sou word.

Handelinge 13-20 is ook ‘n reisverhaal en korrespondeer met Lukas 10-19 – Barnabas en Saulus en later Paulus en Silas neem die evangelie na Asië en Europa (op pad na Rome – soos Jesus op pad na Jerusalem).  Barnabas is aanvanklik die leier, soos onder andere blyk uit die begin van die 1ste sendingreis (Handelinge 13), die gebeure by Listra (Hand 14) en die beraad in Jerusalem (Hand 15).   Met die tweede sendingreis skei die paaie van Barnabas en Paulus omdat Barnabas die begeleiding van die jong Johannes Markus belangriker geag het, as om sonder hom saam met Paulus te vertrek.  Dit sou vêrreikende gevolge vir Johannes Markus inhou, en, soos Paulus in sy latere briewe erken, ook vir Paulus self.  Markus en Paulus versoen uiteindelik en Markus skryf waarskynlik die eerste evangelie.

Handelinge 21-28 vertel ook van ‘n verhoor en korrespondeer met Lukas 20-24 – Paulus, nou die hoofkarakter, verskyn voor dieselfde drie tribunale as Jesus (die Joodse Sanhedrin [Luk 22/Hand 22], die Romeinse goewerneur [Luk 23/Hand 25], en een van die Herodes konings [Luk 23/Hand 25 {Julius Markus Agrippa}]) – die resultaat is dat die evangelie tot in die hart van die Romeinse ryk versprei.

Die verhaal fokus dus op die beweging van die evangelie van Jerusalem na Rome.  Die goeie nuus van God se redding word aan alle mense aangebied in vervulling van die belofte aan Abraham (Hand 3:25 – “jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ‘n seën wees” – Gen 12:2-3) en die visie van die profete (Hand 15:17 – “al die heiden nasies”  – Amos 9:11-12). Dit verklaar ook hoekom Barnabas se verdere verhaal (na Siprus en verder) weggelaat word na Handelinge 15, omdat dit nie inpas in wat Lukas met sy verhaal wil demonstreer nie.

Handelinge is  verdeel in 6 fases deur Lukas se opsommende opmerkings in 6:7, 9:31, 12:24, 16:5 en 19:20.  Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg: geografies, etnies, eties, en/of polities:

  • 1:1-6:7 – die goeie nuus oor Jesus versprei na ander Jode in JerusalemDie verhaal van Barnabas pas hier in as stimulus vir die onderlinge mededeelsaamheid wat ’n belangrike platform vir die verspreiding van die evangelie gegee het.
  • 6:8-9:31 – die goeie nuus oor Jesus versprei geografies na Jode in Judea, Galilea en Samaria sowel as Afrika (Etiopiese amptenaar) met die Griekssprekende evangelis Filippus wat ‘n groot rol speel.  Die verhaal van Barnabas pas hier in as die persoon wat God se roeping van Saulus erken en as borg vir hom optree binne die eerste gemeente.
  • 9:32-12:24 – die eerste etniese uitbreiding na heidene (Kornelius) vind plaas in Sesarea (Noord-Palestina) en Paulus kom tot bekering op die pad na Damaskus. Gewone gelowiges verkondig ook die evangelie aan Griekssprekendes in Antiogië. Barnabas speel hier ’n sleutelrol om die gemeente in Antiogië te bedien, Saulus daar as leraar te bemagtig en die praktyk van onderlinge offervaardigheid te bevestig deur die dankoffer van Antiogië na Jerusalem te bring.
  • 12:25-16:5 – die goeie nuus versprei na Asië met Barnabas en Saulus se eerste sendingreis en bring etiese vraagstukke na vore wat deur die Jerusalem “sinode” (hfst. 15) besleg word.  Barnabas speel hier ’n leidende rol, sowel aanvanklik op die reis self as in Jerusalem.  Hy kies egter om eerder vir Johannes Markus te mentor toe Paulus hom nie wou saamneem op die tweede sendingreis nie.  Lukas volg dan in sy verhaal die uitbreiding van die evangelie aan die hand van Paulus se bediening.  Ons lei die verdere verloop van Barnabas se bediening hierna af uit in ’n paar opmerkings in Paulus en Petrus se briewe.
  • 16:6-19:20 – die goeie nuus versprei na Europa deur twee verdere sendingreise van Paulus wat tot gevolg het dat die kerk al hoe meer uit Christene uit heidense volkere bestaan.
  • 19:21-28:31 – op die derde sendingreis besluit Paulus om na Jerusalem te gaan en het die vervolging daar tot gevolg dat die evangelie ook polities begin versprei om uiteindelik Rome, die hoofstad van die Romeinse ryk bereik.

Vir ons doel, ’n fokus op die verhaal van Barnabas, konsentreer ons dus net op die eerste vier fases van Lukas se verhaal, sowel as op die paar opmerkings in Paulus en Petrus se briewe wat op Barnabas se verdere bediening betrekking het.

Lewer jou kommentaar hier, asb.