Woensdag, 30 Maart 2011 16:18 Laas Opdateer op Woensdag, 30 Maart 2011 16:27
Met geestelike gewoontes leer ’n mens ’n kant van die Christelike lewe ken wat jy nie kan leer net deur boeke te lees of aan die voete van geleerdes te sit nie. Dit is kennis wat net deur ervaring onder begeleiding van die Heilige Gees oopgesluit kan word (1 Kor 2:13). Dit is in die beoefening van die geestelike gewoontes wat ’n mens dié kennis opdoen, op geen ander manier nie.
Ons wil graag in hierdie Pinksterreeks mense blootstel aan sulke geestelike gewoontes sodat hierdie Pinkster nie net ’n heerlike ervaring in terme van die byeenkomste is nie, maar inderdaad tot lewensverandering lei.
‘n Paar opmerkings oor geestelike gewoontes is nodig om dit in perspektief te stel.
Fokus op wat God in jou verhouding met Hom wil laat gebeur
‘n Mens moet versigtig wees dat jy ‘n geestelike gewoonte beoefen sonder dat jy regtig fokus op God en jou verhouding met Hom. Jy kan bv. die geestelike gewoonte daaglikse ondersoek meganies beoefen, sonder om diep te luister na wat God vir jou wil sê deur die dinge wat met jou gebeur. Dan sal jy die genade van God mis wat deur hierdie geestelike gewoonte jou wil vorm in die gestalte van Christus.
Fokus dus in die beoefening van die geestelike gewoontes op God en wat Hy vir jou duidelik maak – deur ‘n oortuiging, ‘n insig, ‘n gewaarwording, ‘n prentjie, ‘n lied, ‘n gedig, ‘n vertroosting, ‘n ontsteltenis of waardeur jy ook al geraak word. Dit is hoe ‘n mens God se stem hoor en dit sal jou vorm en geestelik laat groei.
Enigiets wat jy vir God doen, kan ‘n geestelike gewoonte wees
Daar is baie voorbeelde van geestelike gewoontes. Adele Calhoun lys 62 in haar uitstekende boek Spiritual Disciplines Handbook, en daar is selfs nog meer. Jy kan ‘n geïllustreerde lys in 'n PowerPoint met ‘n kort verduideliking daarvan hier aflaai (aan die onderkant van hierdie artikel).
‘n Mens kan dié gewoontes ook kategoriseer op verskillende maniere, bv. gewoontes wat te make het met die self, ander en God (Henry Nouwen, Reaching Out) of die innerlike, uiterlike en korporatiewe dissiplines (Richard Forster, Celebration of Discipline). ‘n Mens kan selfs die omgewing as ‘n vierde kategorie bysit (bv. met die geestelike gewoonte omgee vir die aarde) wat in ons tyd ‘n belangrike uitbreiding is. En sulke kategoriserings bly ‘n handige manier van dink oor geestelike gewoontes, waardeur jy kan sorg dat jy nie vashaak by gewoontes wat net met jou self of net met ander te make het nie.
Maar – en dit is belangrik – enigiets wat jy vir God doen kan ‘n geestelike gewoonte wees “if we offer it to God as a means for God to use in our lives as God chooses.” (Mulholland, Shaped by the Word, 114). ‘n Wonderlike ding gebeur dan: “’Doing’ becomes ‘being’; jou geestelike gewoonte word deel van jou menswees; dit vorm jou in die tipe mens wat God wil hê dat jy moet wees. Dit gee jou ook die regte balans tussen doen en wees, omdat die doen uit jou wees kom, en jou doen weer jou wees vorm.
Almal van ons kan enige geestelike gewoonte beoefen
Sommige van ons het gawes wat ‘n besondere vermoë is om ‘n spesifieke geestelike gewoonte te beoefen. Dit kan selfs wees dat daar ‘n spesifieke gewoonte is wat jou gewoonte raak, die geestelike gewoonte wat die praktyk van jou geestelike lewe meer as enige ander bepaal. En daar is natuurlik niks fout daarmee nie. Dit is juis wat met jou moet gebeur – dat jy ‘n lewenspraktyk ontwikkel wat deur spesifieke geestelike gewoontes gestempel word.
Maar dit beteken nie dat ek net daarop moet fokus nie, of nog erger, nie ‘n sekere geestelike gewoonte beoefen nie, omdat iemand anders dit beter as ek kan doen nie. Almal van ons kan te enige tyd ‘n geestelike gewoonte beoefen en ervaar dat God ons daardeur nie net laat groei nie, maar ook inspan binne sy koninkryk.
10 Geestelike gewoontes
Ons wil hierdie Pinkster op 10 sulke geestelike gewoontes fokus. Hierdie geestelike gewoontes word nie gekies primêr omdat dit in een of ander skema pas nie – soos die skemas van Calhoun, Nouwen, Foster en ander nie. Ons kies hierdie 10 geestelike gewoonte omdat dit vir ons gevoel die beste pas by die inhoud van die Bybelse verhale van Barnabas, soos ons dit gelees het. Dit is eers finaal gekies nadat die eksegese volledig gedoen is. Uiteraard sou ander skrywers ander gewoontes kon identifiseer – maar ons keuse sal duidelik in die riglyne verduidelik word.
Die 10 geestelike gewoontes wat ons dus gekies het vir hierdie Pinksterreeks (met die geestelike gewoontes waarop dit gebaseer is in Engels) is:
- Vrygewigheid (stewardship)
- Gasvryheid (hospitality)
- Bemoediging (compassion)
- Omgee (service, mercy)
- Daaglikse ondersoek (daily examen)
- Getuienis (witness)
- Nederigheid (humility)
- Gemeenskap (community)
- Geloofsonderskeiding (discernment)
- Lewenspraktyk (rule for life)




