Woensdag, 30 Maart 2011 16:37
In die Seisoen van Luister van die afgelope 5 jaar het ons geleer dat om reg na God te luister, beteken dat ons ’n balans moet kry tussen ’n meer informatiewe lees van die Bybel en ’n meer formatiewe lees daarvan, hetsy in ’n Bybelstudiegroep of in ’n erediens. Ons het geleer dat die teksgedeelte nie net daar is om vir ons waardevolle inligting te gee nie. Dit is nie net ’n skat waaruit ons kosbare items haal nie, hoe belangrik dit ook al mag wees. Ons het geleer dat die teksgedeelte God se belangrikste instrument is wat ons lewens vorm. God maak daarby van ons die skat wat ander mense se lewens kan verryk.
Dit beteken dat ons nie ’n greep op die Bybel probeer kry met ons Bybelstudie of in ons eredienste nie. Ons laat God toe om ’n greep op ons te kry, ons lewens te vorm, ons lewenstyl te verander, sodat ons al hoe meer kan leef soos Hy wil. Dit is wat die geleerdes Spiritual Formation noem, die proses waardeur ons na die beeld van Christus verander word ter wille van ander (Mulholland, Shaped by the Word, 25).
Groei oor Grense
In Pinkster 2010 het ons met ’n beweging begin wat mense kon laat Groei oor Grense na ander toe (jy kan steeds daardie 10 preekriglyne by www.seisoenvanluister.co.za aflaai). Dit was gekoppel aan die wyd-gebruikte Bybelstudieboek Die Vrou by die put – Stap saam met Jesus oor grense – ’n Studie oor die Samaritaanse vrou.
Ons is steeds oortuig dat hierdie oorsteek van grense na ander mense toe die belangrikste verandering is wat die evangelie bring; dat dit die verhoudings tussen mense verander; dat ons mekaar anders begin raaksien; dat ons mekaar as geskenke van die Here leer ervaar; dat ons in ware gemeenskap met mekaar leer leef. En daarvoor moet ons doelbewus grense oorsteek, met deernis en openheid, met leerbaarheid en vertroue. Dit is die waardes wat die Seisoen van Luister immers in ons geskep het die afgelope 5 jaar.
Lewenstyl
In hierdie preekriglyne van Pinkster 2011 fokus ons nou op die lewenstyl wat tot stand kom in hierdie beweging na ander mense toe.
- Dit is nie genoeg om net tot rus te kom voor God en na Hom en ander te luister nie – die eerste beweging van die luistersiklus.
- Dit is nie genoeg om net Sy stem te hoor, ook in dié van ander, en daardeur geruk of getroos te word nie – die tweede beweging van die luistersiklus.
- Dit moet altyd ook lei tot ’n nuwe manier van leef, ’n nuwe lewenstyl – die derde beweging van die luistersiklus.




