Woensdag, 30 Maart 2011 16:46 Laas Opdateer op Woensdag, 30 Maart 2011 17:09
As jy die volledige hulpmiddels wil aflaai: Klik hier om te registreer,Klik hier om die dokumente af te laai.
Barnabas die Bemoediger - Handelinge 4:32-37
Die Heilige Gees versprei die evangelie deur vrygewigheid (vrygewigheid)
God roep spesifieke mense. Hy gebruik hulle afkoms en gawes, wat baie keer doodgewone goed is soos ’n stuk grond wat jy besit, maar dit dan op ’n unieke manier inspan binne die kerk en gemeenskap om verstommende goed reg te kry, soos om van die Christelike gemeenskap wêreldwyd ’n vrygewige gasvry een te maak. Barnabas se vrygewige geskenk het ’n impak ver bo dit wat hy in sy tyd kon voorsien het. Dit is waar van enigiemand wat gewone dinge in diens van die Here en sy kerk stel. Ons kan Barnabas navolg in die bemeestering van die geestelike gewoonte van vrygewigheid.
Barnabas die Borg - Handelinge 9:26-31
Die Heilige Gees skep veilige ruimtes deur gasvryheid (gasvryheid)
Roeping is ’n dinamiese reis en nie ’n bestemming nie. Barnabas het nie vasgeval in ’n vrygewigheidsbediening nie, soos wat maklik kon gebeur het in Jerusalem – die nood was immers groot – maar het gedoen wat die Here op sy hart lê in die gewone gang van die lewe. Hy het nie verder betrokke geraak by bv. die versorging van die weduwees nie, hoewel hy tog in ’n sekere sin betrokke gebly het deurdat hy gekies word om die gemeente van Antiogië se dankoffer vir die gemeente in Jerusalem te bring (Hand 11). Hy fokus egter op die raaksien van en die gasvrye intrek van nuwe bedienaars van die evangelie. Ons kan Barnabas navolg in die bemeestering van die geestelike gewoonte van gasvryheid.
Barnabas die Brugbouer - Handelinge 11:19-24a
Die Heilige Gees skuif grense deur die getuienis van gewone mense (bemoediging)
Barnabas is die eerste leraar wat begin om Jode en nie-Jode in een gemeente te bedien. Hy vestig ’n model vir hoe die kerk behoort te wees. Hy sluit by die uitbreiding van die evangelie aan en bemoedig en bevestig die Griekse gelowiges in hulle verbintenis aan die Here. En onthou dat hy dus daarmee aansluit by ’n beweging van gewone gelowiges wat die evangelie aan ander bring. Dit is gewone Joodse gelowiges van Siprus en Sirene wat hier oor grense stap om ander taalgroepe te bereik. En dit is hulle wat die kerk telkens moet navolg. Dit nooi ons ook uit om deel te word van die rimpel-effek van hierdie gebeure wat steeds sigbaar is oor die hele wêreld, waar grense van kultuur en taal oorgesteek word met die evangelie van Jesus Christus. Ons kan Barnabas navolg in die bemeestering van die geestelike gewoonte van bemoediging.
Barnabas die Bemagtiger - Handelinge 11:24b-30
Die Heilige Gees sorg vir ander deur ons omgee (omgee)
Waar Barnabas vroeër met sy vrygewigheid ’n direkte impak op die gemeente in Jerusalem gehad het, raak hy nou die instrument wat ’n ander gemeente se vrygewigheid aan die gemeente in Jerusalem gaan oordra. Barnabas se persoonlike hulpbetoon aan Jerusalem in sy vroeëre verblyf daar, word nou voortgesit in die vorm van ’n korporatiewe omgee-diens aan die gemeente van Jerusalem, een van die eerste gevalle van onderlinge gemeentesorg en barmhartigheid binne die verband van gemeentes. Met sy eie omgee het hy die nuwe gemeente in Antiogië bemoedig, sowel as vir Saulus in sy bediening, en die gemeente versterk in hulle eie mededeelsaamheid teenoor die eerste gemeente in Jerusalem. Ons kan Barnabas navolg in die geestelike gewoonte van omgee.
Barnabas die Bedienaar - Handelinge 13:1-12
‘n Gestuurde gemeente leef deur gebed en getuienis (daaglikse ondersoek)
God gee alles wat ons nodig het om ons roeping te leef. Wat begin het in Barnabas se lewe met die verkoop van ’n stuk grond, en gelei het tot ’n verbintenis aan Saulus en die gemeente in Antiogië, word nou ’n volskaalse roeping om die wêreld met die evangelie van Jesus Christus te bereik. En elke deel van dié voorafgaande pad tot hier – gawes, afkoms, onderrig, ervarings – gee aan die roepingsreis ’n doelgerigtheid en dinamika. Gebed is 'n belangrike manier waarop God se wil onderskei word – beide in die ontvangs en bevestiging daarvan. En die gemeenskap van gelowiges speel as ’n groep daarin ’n belangrike rol. Een van die gebedspraktyke wat deur die eeue ontwikkel is om ’n mens te help om God se stem te herken, is die geestelike gewoonte wat die daaglikse ondersoek (daily examen) genoem word. Dit is die geestelike gewoonte wat ons gaan beoefen.
Barnabas die Beledigde- Handelinge 13:13-52
Die Heilige Gees gee die ewige lewe deur ons getuienis (getuienis)
Barnabas en Paulus maak in Antiogië in Pisidië groot deurbrake vir die evangelie. Dit gebeur deur die goeie boodskap van Jesus as Verlosser aan die hand van die einste wet en die profete te bring. Maar belangrik, ook deur die gesprekvoering wat daarna volg waarin oor die betekenis daarvan nagedink word en mense aangemoedig word om op die genade van God te bly vertrou. God gee die ewige lewe deur hulle getuienis. Dit is met dié hoop dat ons van Hom met ons lewe en woorde getuig oral waar ons kom - ook gewone gelowiges soos Handelinge ons duidelik leer. Ons kan Barnabas navolg in die geestelike gewoonte van getuienis.
Barnabas die Bewonderde - Handelinge 14:1-20
’n Nederige lewenstyl kies die pad van dienslewering en nie magsvertoon nie (nederigheid)
Nederigheid kom nie natuurlik vir ons nie. Niemand wil graag aan die onderpunt van die leer wees nie. Die probleem is dat ’n sug na waardering baie maklik in ’n sug na mag verander, juis die versoeking waarvoor Jesus in die woestyn geplaas is (Matt 4:1-11). Geen wonder dat Barnabas en Paulus hier met amperse aggressie reageer op die heldeverering wat hulle te beurt val, en vasberade keer dat hulle in die sentrum van die mense se gedagtes kom staan. Hulle hantering van die probleem van heldeverering is ’n model vir ons om na te volg. Ons kan Barnabas navolg in die geestelike gewoonte van nederigheid.
Barnabas die Beskermer - Handelinge 14:21-28
Die Heilige Gees skep ’n gemeenskap waarbinne geloof tot sy reg kom (gemeenskap)
Geloof kom net tot sy reg as mense in ’n gemeenskap tot hulle reg kom. Jesus het nie ’n geskrif nagelaat nie, wel ’n gemeenskap. Barnabas en Paulus versterk dus die onderlinge gemeenskap en kies leiers om verantwoordelikheid vir die Woordverkondiging en leiding van die gemeente te neem. So beskerm hulle die prosesse wat aan die gang gekom het in antwoord op die evangelie. Dit beteken dat hulle die gemeente die geheim van 'n gedeelde taal en saamwees aanleer. Ons kan Barnabas navolg in die geestelike gewoonte van gemeenskap.
Barnabas die Besluitnemer - Handelinge 15:1-35
Die Heilige Gees leer ons onderskei deur getuienisse en die Bybel (geloofsonderskeiding)
Die oop deur van geloof vir die heidene wek interne weerstand op van gelowiges uit die Fariseërs. Dit is ’n katalisator vir die onderskeiding van God se wil. Onderskeiding sluit almal se bydraes in, gewone gelowiges en leiers s’n. Dit werk met getuienisse oor God se werk in die lewe en getoets aan die Skrifwoord totdat daar klaarheid daaroor kom. Eers as daar wye instemming bereik is, word dit die besluit van die geloofsgemeenskap. Ons kan Barnabas navolg in die geestelike gewoonte van geloofsonderskeiding.
Barnabas die Begeleier - Handelinge 15:36-41 (Kol 4:10; Fil 24; 2 Tim 4:11; 1 Pet 5:13)
Die Heilige Gees seën mense deur ons lewenspraktyke (lewenspraktyk)
Barnabas en Paulus verskil met mekaar oor gelowiges wat terugdeins... en 'n tweede kans wil hê. Paulus sê Johannes Markus kan nie saamreis nie, en Barnabs dat hy welkom is: Almal verdien ’n tweede kans. Wat het Barnabas so laat besluit? Sy onderskeidingsvermoë en sy gawe van bemoediging. Hy voeg dit saam in ’n lewenspraktyk van begeleiding. Aan die einde van ons reis met Barnabas wil ons dus ’n oorkoepelende geestelike gewoonte bemeester, die lewenspraktyk. Ons kan Barnabas navolg in die geestelike gewoonte van 'n lewenspraktyk wat in ’n basiese Christelike lewenstyl tot uitdrukking kom.




