Esegiël 34:11-16, 20-24 – Sondag van Christus die koning – 20 November 2011
Daar is wêreldwyd ‘n misnoeë met swak leierskap. Die redes is legio. Die één kenmerk wat egter telkens bó alles anders uitstaan, is die ervaring dat die meeste leiers maar net na hulle eiebelang omsien, en nie regtig vir hulle mense omgee nie. Esegiël 34 se eerste gedeelte sluit hierby aan en handel oor die slegte herders en die toestand van die mense onder hulle slegte sorg. Die Here sal oor hulle oordeel en self verantwoordelikheid vir sy verwonde volk neem. Die tweede gedeelte handel oor die messiaanse tyd wanneer die messiaanse prins sal regeer en toestande sal heers wat aan die paradys herinner. Dit nooi ons uit tot dienaarleierskap. Dit is diens in nederigheid, uit liefde vir die ander. Dit is leierskap waar die leier se ego ter syde is en hy of sy veral begaan is oor die welsyn van diegene wat gelei word. Dit is leierskap soos Jesus gedemonstreer het.
1 Tessalonisense 5:1-11 – 13 November 2011 – 21ste Sondag in Koninkrykstyd
"Die einde van die wêreld" ontlok altyd hewige reaksie. As gelowiges weet ons nie wanneer nie, maar ons weet dat Jesus wél eendag gaan terugkeer soos Hy gegaan het. Hoe maak mens egter gereed vir iets waarvoor jy nie 'n vaste datum het nie? 'n Goeie plek om te begin is by die Een vir wie ons onsself gereed maak: die Bruidegom. Wat verwag die Bruidegom van ons? Dat ons Hom moet liefhê met ons hele hart en siel en liggaam. Die Heilige Gees binne ons skep daardie liefde en maak ons gereed vir Jesus se wederkoms.
1 Tessalonisense 4:13-18 – 20ste Sondag in Koninkrykstyd– 6 November 2011
Hoe treur mense wat hoop het? Nicholas Wolterstorff se boek Lament for a son sê oor die waarde van die regte hartseer: “Ek sal dinge sien wat ek met droë oë nie kon sien nie,” Vir hom is diegene wat treur mense wat iets van God se nuwe dag raaksien, wat met hulle hele wese daarna hunker dat dit moet kom – en wat in trane uitbars wanneer dit nog nie gebeur het … Diegene wat treur, is hunkerende vérsiendes. Jesus se boodskap weerklink vandag nog: Wees oop vir die wonde van die wêreld. Treur omdat die mensdom treur, huil omdat die mensdom huil, word self verwond deur die wonde van die wêreld. Beleef 'n doodsangs omdat die wêreld in 'n doodsangs is. Maar ... doen dit met 'n opgeruimdheid dat 'n dag van vrede sal aanbreek! Treur met hoop!
Josua 3:7-17 – 19de Sondag in Koninkrykstyd– 30 Oktober 2011
Dapperheid, waagmoed en deursettingsvermoë is van die beste kwaliteite waaroor die mens beskik. Volgens die Bybel beloon die Here waagmoed. Die Here nooi ons om te waag en deur te druk. Min mense het minder opsies gehad as Martin Luther toe hy tydens die verhoor by die Ryksdag van Worms in 1521 gesê het: "Hier staan ek, ek kan nie anders nie." Hy is gevra om alles wat hy tot op daardie stadium geskryf het, terug te trek. Deel hiervan is die 95 stellings wat hy teen die Kasteelkerk in Wittenberg se deur vasgespyker het. Toe Luther weier, is hy deur die Pous uit die kerk geban en deur die keiser tot voortvlugtige verklaar. 'n Paar vriende ontvoer hom egter na die Wartburg-kasteel by Eisenach waar hy die Nuwe Testament in Duits vertaal. Hierdie enkele daad van Luther waai die vlamme van die reformasie aan, sodat dit as 'n onstuitbare golf oor Europa gespoel het. Dit motiveer ons vandag: Wag op God en waag met God.
Levitikus 19:1-2, 15-18 – 18de Sondag in Koninkrykstyd – 23 Oktober 2011
Die Here onderrig sy volk: "Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig." Mens wonder hoe Christene hierdie opdrag hoor? Wat beteken dit om heilig te wees? Baie van ons dink aan heiligheid as afsondering. Vandag word aanvaar dat "heilig" eerder afgelei is van die Hebreeuse woord vir "skitter" of "blink." Die Heilige God straal 'n verblindende glans uit, God is totaal anders. God vra van ons om totaal anders te lewe. Die woord daarvoor is heilig. Die ontdekking is dat die heiligheid van God se mense, op grond van die heiligheid van God, uitspeel op die terrein van interpersoonlike en inter-groep verhoudinge. Heilige mense is mense wat anders onder mekaar en anders in die groter wêreld van die samelewing lewe. God se volk dóén anders, want hulle het die heerlikheid van God gesien. Ons sosiale verhoudinge weerspieël God se heiligheid.
Matteus 22:15-22 – 17de Sondag in Koninkrykstyd– 16 Oktober 2011
Verhale rondom dienslewering in ons lande laat ‘n mens lag en huil. Dit maak jou dankbaar ... en laat jou bloed kook. Ons betaal belasting aan die staat sodat hulle die geld kan aanwend om ons omgewing en geriewe in stand te hou en te verbeter. Maar dit gebeur nie altyd nie, veral nie op plaaslike vlak nie. Gaan mens in sulke gevalle voort om jou belasting te betaal? Hoe moet Christene reageer? Luister weer na Jesus se hantering van dié vraag. Dit laat jou nie net konsekwent wees nie, maar gehoorsaam. God se heerskappy stuur ons immers na die volle lewe.
Eksodus 32:1-14 – 16de Sondag in Koninkrykstyd – 9 Oktober 2011
Eksodus 32 vertel vir ons die onverwagse, die onmoontlike: dat die volk afvallig word van God en ’n beeld maak en dit nie net aanbid nie, maar vir die beeld sê dit is hy wat hulle uit Egipte gered het. Hierdie was oorgenoeg rede vir God om sy volk te los, hulle af te sny of te verdelg, 'n nuwe volk te skep, en met hulle aan te gaan. Tog lees ons dat sy hart weer sag word, Hy hulle vergewe en besluit om tog maar saam met hulle te gaan en hulle te lei tot waar hulle moet wees. Dit leer ons dat God se genade veel groter is as die sonde wat ons as mense kan doen.