Die Seisoen van Luister voorsien elke week 'n PowerPoint en Word hulpmiddel vir gebruik saam met die fokusteks van die Leesrooster se Preekriglyne wat Bybel-Media in samewerking met Communitas uitgee.
Die uitgangspunte is die volgende:
Preekstudies en liturgiese voorstelle
Die Preekstudies met liturgiese voorstelle – Advent 2011 tot Koninkrykstyd 2012 – is ’n hulpmiddel vir die voorbereiding van eredienste en die ontwikkeling van preke. Dit volg die seisoene van die kerkjaar, en maak gebruik van die teksrooster Revised Common Lectionary, Jaar B. Die Preekstudies en liturgiese voorstelle kan gebruik word saam met die ander publikasie in die reeks, naamlik die Leesrooster
R220.00 (14% BTW ingesluit) - BESTEL DIT HIER
Genesis 9:8-17 – 1ste Sondag in Lydenstyd – 26 Februarie 2012
In Familietyd kan die verhaal van Noag en die reënboog vertel word – gebruik ‘n glas water en wit papier – om die kinders te herinner aan God se beloftes, dat Hy ons God is en lief is vir ons. Die preekriglyn sluit aan by die woorde op een van die monumente in Dachau wat oor die verskrikking van Hitler sê: “Nooit weer nie.†Tog sien ons steeds soveel leed. Dit bly die hartseer verhaal van die mensdom na die sondeval – mense vernietig mekaar. Geen wonder dat die Here eenmaal berou gehad het dat Hy ons gemaak het nie. Die verhaal van Noag skets egter vir ons prentjie van ‘n God wat genade het. Trouens, die reënboog herinner ons nie net aan God se trou nie. Dit herinner God aan sy verbond met ons. Soos die kruis van Jesus Hom vandag herinner aan die genade wat vir alle mense verlossing bring.
2 Konings 2:1-15 – Sondag van die verheerliking – Feesdiens – 19 Februarie 2012
Met Familie-tyd kan met die verhaal van Elia se “hemelvaart†aangesluit word by die gebruik van die strydwa in antieke oorloë om die Here se beskerming van ons te verduidelik. Dit verskaf ook ‘n skakel na die prediking wat fokus op die simboliese betekenis van Elia se verhaal: God wat vir Israel die stryd voer, iets wat vir Elisa, Elia se dissipel in sy geloof bevestig het. Met die berg van verheerliking gebeur nou iets soortgelyks. God bevestig die dissipels se geloof met ‘n blik op die heerlikheid van Jesus, dié Een wat vir hulle, eintlik die hele wêreld, die stryd gaan voer. Daarby ontvang ons ook ‘n dubbele deel van die Gees van Christus, sodat ons die stukkendheid van die wêreld met God se krag kan aanpak.
2 Konings 5:1-14 – SESDE SONDAG Nà EPIFANIE – 12 Februarie 2012
In die Familietyd word na Naäman se verhaal gekyk uit die hoek van die instruksies agterop ‘n boksie sjokoladekitspoeding wat jy moet volg om dit te kan maak. God se plan is eenvoudig. Volg net die instruksies. In die preekriglyn word gewerk met die tema: "Small is beautiful" – dit is die evangelie! God se sorg vir mense word pragtig geïllustreer in hierdie wonder-storie, waarmee ook bevestig word dat Hy by sy volk is soos by sy profeet Elisa. Hy is egter ook in Sirië deur hierdie “klein jongdogtertjie†wat hoop bring vir Naäman. Daarmee word die hiërargie van wie nou eintlik magtig is gedekonstrueer. Die geloof van ’n diensmeisie het Naäman se genesing begin. Die geloof van sy amptenare voltooi dit. Op daardie moment is hulle gelyk: Die groot, dapper soldaat, Naäman, en die klein, naamlose dogtertjie: albei klein en gehoorsaam. Dit is ook eers wanneer Naäman verlos word van sy grootheid en status dat hy verander word en genesing en bekering ervaar.
1 Korintiërs 9:16-23 – Epifanie 5 – 5 Februarie 2012
Met Familie-tyd kan jy “telefoontjie†met die kinders speel om die idee oor te dra dat alle mense die boodskap van Christus moet hoor. Die 16de eeuse verhaal van Matteo Ricci, ‘n Italiaanse sendeling na China, plaas die Skrifgedeelte in konteks. Soos in Paulus se lewe het twee kragte saamgespan in Matteo se lewe om die evangelie in China te laat versprei: sy passie om die evangelie te deel, en sy passie om naby die mense te kom, om soos hulle te word, soos Jesus die evangelie te inkarneer. Daarom dra hy bv. die drag van ‘n Boeddhis. Dieselfde was waar van Paulus. Om die evangelie te laat aankom by mense, word hy vir die swakkes swak en vir die sonder die wet soos een sonder die wet, en vir die onder die wet soos een onder die wet. Dit is dié tipe passie – om die evangelie te deel op ‘n inkarnasionele kultuur-sensitiewe wyse – wat deur die Here gebruik word om te sorg dat geloof nie uitsterf nie. Meer nog, om daardeur soveel mense as moontlik vir Christus te wen.
1 Korintiërs 8:1-13– Epifanie 4 – 29 Januarie 2012
Familietyd sluit by die versoeking aan om nommer Een te wees, selfs al speel jy net sokker saam met jou vriende! Daarmee word die punt van die preekriglyn ook aangeroer, waar Paulus fokus op die debat tussen die “sterkes†en “swakkes†in Korinte oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is. Verstandkennis moet nie gebruik word om ander af te kraak nie, maar juis in liefde op te bou. Ons naaste is ’n oriënterasiepunt vir ons kennis, want ons leef nie vir onsself nie. Kennis moet in liefde ons naaste bou. Ons moet al hoe meer vaardig raak in die beoefening van kennis-as-liefde.
1 Korintiërs 7:29-31– Epifanie 3 – 22 Januarie 2012
In Familie-tyd kan jy met kleiner kinders gesels oor ons verwagting van die nuwe lewe wat Jesus met die wederkoms bring en met ouer kinders oor die kompas van kaptein Jack Sparrow van Pirates of the Caribbean wat altyd wys na dié ding wat hy die graagste wil hê. Ons kompas wys altyd na ’n lewe saam met Jesus. Dit is ook ’n goeie invalshoek in die preekriglyn oor die huwelik, wat aan die een kant die groot waarde daarvan uitspel – volgens navorsing het getroudes gemiddeld 93% meer bates versamel as enkellopendes of geskeide persone (hulle verloor gemiddeld 77%!) – maar aan die ander kant ook die relatiewe waarde daarvan in die koninkryk uitspel. Ons kan te tuis raak in hierdie wêreld, en dan kry jou bates ’n houvas op hou. Dit word die rigsnoer vir jou lewe. Paulus plaas hierdie mensgemaakte oriënteringspunte, selfs só iets wonderliks soos die huwelik, doelbewus op losse skroewe. Ons kompas is ingestel of moet ten minste ingestel word op 'n lewenstyl wat toewyding aan die Here moontlik maak. Dit beteken dat ons vry teenoor die wêreld kan lewe, en vreesloos fokus op die doen van die regte dinge.
Psalm 139:1-6, 13-18 – Epifanie 2 – 15 Januarie 2012
In Familietyd kan by die wonder van die ontwikkeling van ’n fetus aangesluit word om God se betrokkenheid by ons te vier. Met die kostelike verhaal van die misverstand rondom ’n besending eikehout vir Adelaide (Australië) wat in Adelaide (Oos-Kaap) beland en vir die herstel van die kerkgebou en pastorie na die Anglo-Boereoorlog gebruik word, word die teks van Psalm 139 ontsluit. God se sorg is nie net toeval nie. Ons lewe in en uit die hande van ’n kreatiewe Skepper-God. Die diepste karaktertrek van ons wêreld is dat dit God se wêreld is, in God se hande, geken, gebou, voortdurend geskep, deur 'n lewende Here wat daarvoor sorg en dit wonderbaarlik en kreatief in stand hou. Die diepste grond van ons bestaan is dus die feit dat ons deur God geken word en dat ons in 'n verhouding tot God staan. God skep ons as't ware van oomblik tot oomblik vanuit hierdie verhouding. God hou ons in stand, bewaak en versorg ons. Daarom sê ons die diepste lewensbeginsel van ons wêreld is nie wetmatighede nie, maar die feit dat dit in God se hande ingebed lê.