’n Kommissie is saamgestel met die oog op ‘n aanbevelings en die neem van ‘n besluit tydens die Algemene Sinode van 2007 oor die posisie van homoseksuele mense in die kerk. Die kommissie het verdeeld geraak en het met twee teenoorstaande standpunte en stelle aanbevelings na die Algemene Sinode van 2007 gekom. Die kerklike wêreld, die openbare media en die gemeentes se oë was gerig op die uitkoms van die debat by die sinode. Die verdeling oor die aangeleentheid was so diep dat baie mense die moontlikheid van ’n skeuring in die kerk voorsien het.

Tydens die sinode het die ontwerpspan die lede van die vergadering genooi tot ’n gesprek voorafgaande aan die homoseksualiteitsdebat. Hierdie gesprek het gehandel oor die waardes wat die lede sou wou laat geld tydens die debat. Bykans honderd van die vierhonderd afgevaardigdes het die aand voorafgaande aan die debat hierdie gesprek bygewoon. Hulle het ooreengekom dat die waardes wat sou geld in die debat die volgende moet wees nl. leerbaarheid, deernis, vertroue en openheid.  

Die debat wat die volgende dag gevoer is, het op ’n wonderlike wyse aan hierdie waardes gestalte gegee. Vir die eerste keer is beleef dat ’n sinode hierdie debat met die waardigheid voer wat met die aard van ’n kerklike vergadering geassosieer word. Die vergadering het desnieteenstaande by ’n dooie punt gekom waarin die diep verdeeldheid oor die saak duidelik geblyk het.

’n Voorstel is aanvaar dat die 10 moderators van die sinodes saam met ’n fasiliteerder moes gaan besin oor moontlike weë om die dooiepunt te deurbreek. Ook in hierdie gesprek het die waardes van leerbaarheid, deernis, vertroue en openheid gegeld. Ook tussen hierdie lede was daar ‘n sterk verdeling van standpunte.

Uiteindelik is ’n voorstel geformuleer wat die posisie verwoord nl. waar die kerk haarself op daardie tydstip bevind het. Hierdie voorstel is deur beide die voorsitters van die aanbevelingskommissie ondersteun. Die sinode het hierdie voorstel met ’n baie groot meerderheid aanvaar.

Die besluit wat geneem is, was beslis die resultaat van ’n verbintenis om te luister na mekaar. Die rol wat die Seisoen van Luister hierin gespeel het en die konteks wat die Seisoen aan die gesprekke verleen het, het ’n beslissende rol daarin gespeel dat die kerk op ’n nuwe manier kon leer besluite neem.

Met die neem van die besluit het die sinode te kenne gegee dat: