Markus 7:24-30 (Matt 15:21-28)

Inleiding

Markus verwys meer na Jesus se wonderwerke as na sy toesprake en ander optredes. Sodoende stel hy Jesus bekend as iemand wat 'n boodskap het, maar ook as die Een wat doen wat Hy sê. Deur sy optrede bevestig Jesus dat God se koninkryk aangebreek het en dat Hy, die Seun van die mens, waarlik die Verlosser is wat in die gestalte van 'n slaaf gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien (10:45). Dié boodskap moet aan almal, Jood en nie-Jood verkondig word. Daarom roep Jesus mense om saam met Hom hierdie onbekende en onbeminde pad te stap (1:14-20; 10:46-52). Dit is 'n pad wat vra dat hulle hulle sal verloën, hulle kruis opneem en Hom volg (8:34-35; 10:38 ev).

Hierin is Jesus vir sy dissipels 'n voorbeeld as hulle saam na twee Fenisiese stede, Tirus en Sidon, vertrek waar Hy eers die dogter van 'n nie-Joodse vrou en daarna 'n doofstom man gesond maak.  Tirus en Sidon was twee vooruitstrewende Fenisiese hawestede aan die Middellandse See. In Dawid se tyd was daar vrede tussen Tirus en Israel, maar mettertyd het Tirus berug geraak vir al haar sondes (Eseg 28:2; 21-23; 16:49-50). Matteus 11:21-22 vertel ook hoe dit vir die twee stede in die oordeelsdag draagliker sou wees as vir Gorasim en Betsaida. Die rede vir hierdie vergelyking is daarin geleë dat laasgenoemde Joodse stede was wat vertroud was met Jesus se wonderwerke. Tog het hulle nie tot bekering gekom nie. Tirus en Sidon, daarenteen, was heidense stede waar mense tot bekering gekom het by die aanskoue van Jesus se wonderwerke.

Dié kontak met heidene was egter nie Jesus se eerste nie.  In 3:8 het die inwoners van Tirus reeds vir Jesus in groot getalle kom opsoek en in 5:1-20 het Hy 'n besetene in die heidense gebied oos van die see van Galilea genees.  Jesus is besig om met hierdie verhale beginsels vir die koninkryk neer te lê wat ‘n groot impak sou hê op sy eie bediening en die latere bediening van die kerk aan heidene. Die hoofboodskap is dat die evangelie bedoel is vir almal.

"Lamar Williamson, Jr. (Mark, Interpretation) sê hieroor, "If in the preceding passage Jesus "declared all foods clean" (7:19), in these stories he declares all persons clean, whether a Gentile woman in a pagan city or a man of indeterminate race in the unclean territory of the Decapolis. The stories are two examples of the sample principle: Both advance Jesus' repudiation of traditional taboos (p. 137)." Aangehaal deur Brian Stoffregen by http://www.crossmarks.com/brian/mark7x24.htm .

Jesus verklaar alle kos rein

Vooraf: Jesus-hulle het aan wal gegaan by Gennesaret, naby Kapernaum, op soek na stilte.  Die toeloop na Hom het egter steeds toegeneem.  Baie mense het ongesteldes na Hom toe gebring om deur Hom aangeraak te word.

Dan maak die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem, heel moontlik gestuur om getuienis teen Jesus in te win, beswaar teen party van die dissipels wat hulle kos met ongewaste hande eet, wat in hulle oë onrein is.  Die probleem met hulle beswaar is nie dat die was van hande ‘n goeie (of slegte) gebruik was nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het.  Jesus wys dit egter af as skynheiligheid, met ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13, omdat die geestelike leiers in die praktyk eerder vashou aan sulke oorgelewerde gebruike, en mense so leer en daarvolgens beoordeel, maar uiteindelik glad nie die Here dien nie.  Hy illustreer dit met die gebruik van korban (dit beteken offergawe), waar jy goed waarmee jy vir jou ouers kon gesorg het, vir die Here offer, en só jou verantwoordelikheid, soos die wet van God dit spesifiek uitspel, teenoor hulle kan vermy (vgl 1 Tim 5:4 waar Paulus die riglyn handhaaf om vir jou ouers te sorg).  Gebruike is dus belangriker as God en sy wet.

Jesus praat weer met die menigte, hak aan by die idee dat ongewaste hande jou kan onrein maak en verduidelik met beeldspraak hoe onhoudbaar dié gedagte is.  Markus vertel nie vir ons wat die skare daarvan gedink het nie, maar die dissipels het weereens verdere onderrig nodig om dié beeldspraak te verstaan.  Markus maak egter die gevolgtrekking, wat in ander NT geskrifte nagevolg sou word, dat Jesus met dié beeldspraak en onderrig alle kos rein verklaar het.  Die wetsriglyn word dus van ‘n blote uiterlike reëling verdiep na ‘n innerlike riglyn: dit is nie kos wat jou onrein maak nie, maar die gedagtes van jou hart.  Vergelyk die soortgelyke lering wat God vir Petrus gee met die oog op sy getuienis aan Kornelius in Handelinge 10:15.

Dit is dus belangrik om in ag te neem dat al die verhale oor nie-Jode (die besetene in Dekapolis [hfst. 5], hierdie Griekse vrou in Tirus en die dowe weer in die gebied van Dekapolis net hierna), wat almal in heidense gebiede afspeel, volg op Jesus se herinterpretasie van wat mense onrein maak.

Jesus se siening dat niks ekstern mense onrein kon maak nie, het naamlik kontak met heidene moontlik gemaak.  Vervolgens kon Jesus in die gebiede van Tirus en Dekapolis Sy bediening voortsit.

Jesus verklaar alle mense rein

Jesus is nog steeds besig om stilte te probeer opsoek, soos net te vore in Betsaida.  Hier soek Hy dit in die noordoostelike gebied van Tirus, wat so 25 km van Kapernaum af begin het, die enigste keer dat hy die Joodse gebied heeltemal verlaat het.  Interessant genoeg word die dissipels nie hier en in die volgende verhaal in Dekapolis eksplisiet genoem nie, hoewel Matteus dit wel doen.

Jesus gaan bly in ‘n "heidense" huis waarmee hy verder demonstreer dat Hy ernstig is oor die lering wat Hy oor rein/onrein gegee het.  Nie net alle kos is rein nie, maar ook die mense van alle nasies!  Vergelyk bv. Petrus se toespraak aan Kornelius waar hy verduidelik dat Jode nie in heidene se huise mag kom nie, ‘n idee wat hy eers laat vaar het op grond van die visioen wat God hom gegee het (Hand 10:28).

‘n Griekse vrou van Siro-Fenicië het egter gou van Hom te hore gekry en vra dat Hy ‘n bose (letterlik onrein!) gees uit haar dogtertjie dryf.  Matteus beskryf die vrou as ‘n Kanaänitiese vrou in die gebied van Tirus en Sidon.  Sommige geleerdes dink dat sy Kanaänities was, maar die Griekse taal en kultuur aangeneem het.  Grieks kon ook in die algemeen gebruik word om iemand as nie-Jood aan te dui (Geullich).

Die Griekse vrou se dogter was nie net onrein omdat sy 'n heiden was nie, maar ook omdat sy 'n onrein gees gehad het.  Geen Jood sou dus met haar kontak wou hê nie.  Haar ma se versoek om haar bevryding, was egter 'n redelike een waarvan 'n mens sou verwag dat Jesus aan gehoor sou gee.  Hy het immers reeds in 5:1-20 'n heidense persoon van 'n hele paar onrein geeste in 'n heidense gebied, Dekapolis bevry.

Daarom is Jesus se onwilligheid om aan haar versoek te voldoen, onverwags (vers 27).  Al is Jesus se antwoord aan haar nie so kortaf soos in Matteus 15:21-28 nie, is dit nog steeds nie 'n diplomatieke een nie.  Hy noem die vrou immers in vers 27 per implikasie 'n waardelose hond ("kunariois" is 'n klein hondjie - wat ons 'n "skootsitter" sou noem).  In Joodse literatuur is honde in die reël as negatief en onrein beskou en was "hond" 'n skelnaam vir heidene.  Anders as die Jode wat "kinders" is, was sy volgens Jesus dus as 'n heiden, 'n hond gereken.

Die vrou gryp egter dié belediging aan tot haar voordeel deur te verklaar dat selfs die honde van die krummels wat van die tafel val iets kry om te eet. Sy fokus nie op die deel van Jesus se uitspraak wat verklaar het dat die kinders eers versadig moet word nie, maar op Jesus se tipering van haar en haar dogter as honde.  Sy wys Jesus daarop dat honde dikwels van die krummels eet terwyl 'n fees aan die gang is.  Sy vra dus nie om 'n deel gelykstaande aan die van die Jode nie, maar wel dat Jesus nou reeds 'n klein stukkie genade aan haar dogter sou betoon.

Let ook op dat sy Jesus as Here aanspreek, wat ‘n ongelooflike belydenis in haar mond is.  Die vrou se insig is werklik opvallend. Die Jode, ten spyte van hulle bevoorregte posisie, wou Hom nie erken vir wie Hy werklik was nie. Hulle was blind vir God se heerskappy. Vandaar Markus se fokus op die blinde man in Betsaida (8:22-26) en die blinde Bartimeus (10:46-52). Dit het 'n heidense vrou gevat om Hom werklik te herken as die Verlosser!

Jesus "verloor" dus die woordewisseling met die vrou.  In alle waarskynlikheid het Markus Jesus se woorde aan haar oor die hondjies as ironies gesien - 'n uitnodiging tot gesprek - in die lig van Sy voorafgaande weergawe van Jesus se verstaan van reinheid en Sy bestaande bediening aan heidene.

In reaksie op haar antwoord, gun Jesus haar haar wens.  Jesus genees haar dogtertjie op grond van wat sy gesê het (letterlik: op grond van hierdie logos), een van die min afstand-genesings, waarmee Jesus haar geloof en vertroue in Hom bedoel.  Sy staan dus in sterk kontras met die onbegrip nie net van die skares nie, maar ook van die dissipels.

In sy gesprek met die Siro-Fenisiese vrou, deurbreek Jesus dus die tradisionele grense van lidmaatskap van die kerk van Jesus Christus (7:24-30). Sodoende word die enigste norm vir lidmaatskap, geloof in Jesus Christus en nie of jy 'n Jood of 'n nie-Jood is nie! Haar verhaal gee dus ‘n rasionaal aan die latere beweging van die kerk oor sosiale en godsdiens grense - soos Jesus, so ook die kerk.

Hierdie verhaal is ook een van die aangrypendste voorbeelde van wat geloof werklik beteken, al word daar nêrens eksplisiet van haar geloof gepraat nie (vgl Matt 15:21ev). Vir haar beteken geloof om al haar hoop op Jesus te plaas, want sy is seker dat Hy haar dogter sal genees. Haar geloof beteken nie noodwendig geloof as fides explicita in die sin van 'n uitgewerkte Christologie nie . . . tog is dit 'n geloof wat met betrekking tot Jesus bely word; 'n geloof wat die onwaarskynlike vra en hoop, wat nie beskaam nie, maar volhard" (Voigt).

Sy bewys dit met "die suiwerste gebaar van fisieke nabyheid". Dit is om in aanbidding "voor God te kniel" (Lohmeyer), want haar kind se nood dryf haar daartoe. So toon sy aan die Jode en die dissipels dat sy glo in die Here van die wonder!

Jesus keer hiervandaan af terug na Dekapolis, die gebied waar Legio verlos is, waarmee Hy verder illustreer dat alle mense welkom is in die koninkryk en van die vrugte daarvan kan geniet.  Jesus genees daar onder andere ‘n dowe man, wat deur mense (vriende?) na Hom gebring is (vergelyk die verlamde man se storie - een kommentaar noem dit "intercessory faith"),

Die tema van brood word ook voortgesit met die tweede vermeerdering van die brood, in oorwegend heidense gebied.   Op literêre vlak is dit opvallend dat die woord vir brood (6:37, 38, 41, 44, 52; 7:2, 5, 27; 8:4, 5, 6) en om versadig te wees (6:42; 7:27; 8:4, 8) deurlopend sedert die eerste voedingswonder in die Markus-narratief voorkom.  Jesus verrig dus 'n hele reeks van voedingswonders wat mense versadig laat - in die fisiese sin, maar ook in die geestelike - soos die meisie met die demoon.  Daar is ook uitleggers wat daarop wys dat met die eerste voedingswonder is die Jode daar teenwoordig versadig (6:42), waarna diegene teenwoordig by die tweede (moontlik heidene as gevolg van die geografiese ligging van die wonder) op hulle beurt versadig word (8:4, 8).  Ander uitleggers sien die uitleg egter as te subtiel om Markus se bedoeling te gewees het.

Preekriglyn

Die daklose vrou

Brennan Manning, die bekende skrywer, vertel van 'n insident wat steeds by hom spook. Dit was nog in die dae toe hy 'n katolieke priester was en invloedryke, ryk vriende hom genooi het om na 'n Broadway show daar in New York te gaan kyk.

Hy het die kans met albei hande aangegryp. Gedurende die pouse het hulle op die sypaadjie gestaan en gesels en mekaar probeer beïndruk met hulle kennis van die teater.

'n Daklose vrou wat koerante verkoop het, het hom genader en sonder om sy gesprek te onderbreek, het hy 'n muntstuk uit sy sak gehaal en vir haar gegee. Sy het hom sy koerant aangebied, maar hy het haar weggewys.

Die vrou het aan sy priestersboordjie opgemerk dat hy 'n priester is. Sy het saggies met hom begin praat: "Father, could I talk to you for a moment?" Manning vertel dat hy kwaai na haar gedraai het en vir haar gesê:  "Can't you see I'm talking with someone? Do you make it a habit of interrupting people? No wonder you're in the condition you're in.  Wait over by the wall, and I'll be there when I'm finished."

Die vrou het geretireer en saggies hakkelend vir Manning, wat toe al weer sy vriende in die gesig gestaar het, gesê :  "Jesus would not have talked to Mary Magdalene that way."

In die oomblik wat die woorde by Manning ingesak het en hy kon terugdraai na haar, was sy weg! Hy het naarstiglik gesoek na haar, maar kon haar nie weer kry nie.

In sy kommentaar op hierdie storie merk hy later op. "I've been looking for her ever since, I made it difficult for her to believe that God, whom she hadn't seen, loved her, when the priest, whom she had seen, did not."

Die heidense vrou

Markus vertel hoe Jesus uit Galilea na Fenisië vertrek het. Jesus het gehoop Hy kon rus, weg van die skares, aangesien dit 'n nie-Joodse gebied was.

'n Onbekende Siro-Fenisiese vrou wie se lewe een groot stuk donkerte was, het egter van Hom te hore gekom. Haar kind is ernstig siek en as ma, is sy desperaat. Alleen Jesus kon haar genees, so het sy gehoor. Hy het deernis met mense wie se lewe in 'n doodloopstraat beland het. Sy plaas al haar hoop op Jesus en daarom is sy bereid om die politieke en godsdienstige grense tussen mense uit te daag.

Daarom val sy voor Jesus se voete neer en smeek Hom om die bose gees wat van haar dogter besit geneem het, uit te dryf.

Maar Jesus verduidelik aan haar dat dit is nie so eenvoudig nie. Hy het eerstens gekom vir die kinders, dit is die Jode. En omdat sy en haar dogter 'n hondjie is, moet sy wag. Hulle beurt sal wel later kom.

Jesus se woorde sou die meeste heidene die harnas ingejaag het. Hulle sou hulle bloediglik vererg dat Hy kon waag om hulle met hondjies te vergelyk, terwyl Hy die Jode kinders noem.

Tog reageer die vrou heeltemal anders. Sy antwoord Hom: "Ja, Here, ek besef dat U eintlik na die Jode gestuur is omdat hulle God se volk is. Ek besef ook dat ons heidene maar eintlik soos hondjies is, maar daar gaan tog 'n paar krummels onder die tafel val. Dit is vir my genoeg. Daarom sal ek geduldig wag!" Sy was so desperaat dat sy al haar hoop en vertroue op genesing in Jesus se hande geplaas het!  Sy is selfs bereid om die etiket van "hondjie" te dra, al beteken dit dat sy die bespotting en verguising van haar eie mense en van die Jode moes ervaar. Sy gee egter nie moed op nie. Sy, as hondjie, is bereid om selfs tevrede te wees met die krummels, solank haar dogter net gesond word.

Aan die een kant het hierdie vrou dinge oor Jesus begryp wat selfs sy dissipels, wat elke dag saam met Hom was, nie verstaan nie. Al was hulle nie God se volk nie, vra sy net vir 'n stukkie oorskietgenade. Dit sou meer as genoeg wees. Jesus sien haar geloof en Hy genees haar kind sonder dat Hy eers naby die kind gekom het.

Aan die ander kant is dit ook waar dat sy die uitdaging aanvaar het om nie moed op te gee nie, maar van hierdie Here te vra wat sy nodig het.  Sy moedig ons dus aan om op dieselfde manier te vra vir die transformasie wat ons nodig het.

Om oop te wees vir die nuwe en die anderse

Kerk-analis Herb Miller stel 'n belangrike vraag:  "Wil jy graag hê dat die gemeente nog teen 2025 moet bestaan - bruis met lewe?" As ons antwoord ja is, dan stel hy voor dat ons oop moet wees vir die nuwe en die anderse. Nie net vir nuwe en anderse MANIERE van doen nie, maar ook vir nuwe en anderse MENSE!  En nie net oop nie, maar gefokus daarop, intensioneel, doelgerig.

Let op hoe die ras en godsdienstige verskille tussen Jesus en die heidense vrou onveranderd bly.  Wat verander is dat die moedige omgee van die vrou vir haar dogter deur God raakgesien word en vir Hom aanvaarbaar is, al is sy ‘n heiden, al is sy ‘n vrou wat alleen met ‘n man praat wat sosiaal onaanvaarbaar was, en daarby nog terugpraat as Hy aanvanklik nie wil doen wat sy vra nie.

Jesus wys vir ons daarmee hoe om oop te wees vir nuwe moontlikhede en vir mense wat anders is.  Selfs die hondjies is immers welkom in die koninkryk van God!

Hy verander immers in hierdie gedeelte drie baie streng sosiale grense.

1.       Sosiaal: In die vorige  verhaal oor rein en onrein kos, maak Hy dit moontlik dat Jode met nie-Jode kan saameet, wat een van die sleutel motiverings sou word vir die kerk om die grens na nie-Jode oor te steek, soos ons sien in die latere verhaal van Petrus wat die grens na Kornelius en sy Italiaanse huis oorsteek.

2.       Godsdienstig: Met hierdie verhaal van die Siro-Fenisiese vrou maak Hy dit moontlik vir die kerk om rekening te jou met die feit dat ‘n heidense hart vir God aanvaarbaar kan wees, wat een van die motiverings vir die hele latere sendingbeweging van Paulus en sy medewerkers was.

3.       Gender: Deurdat sy ‘n vrou is, maak Jesus dit hier moontlik dat die gender grense tussen mans en vroue oorgesteek kan word.

Dink net wat kan gebeur as ons saam met Jesus hierdie grens begin oorsteek na mense wat anders is as ons, saam met hulle eet, en ook rekening hou met die feit dat hulle vir God aanvaarbaar is, selfs al is hulle vroue!

Gaan sit môre bv. by 'n winkelsentrum en kyk na die mense wat daar rondmaal.  Vra jouself af, wie van dié mense sal welkom wees in julle gemeente?  Wie van hulle sal by God aanvaarbaar wees?  Dink aan wat Ben Sanders gesê het: "To truly value diversity is to constantly learn about those around you. It is to learn that diversity means co-dependency, not by choice but by God-ordained requirement."  En dink wat sal gebeur as jy die grens na hulle sal oorsteek en met die grasie van 'n Jesus in Siro-Fenisië sal hanteer.

Refleksie

Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet.

  • Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur?
  • Wat wil jy bevestig by dié mense?
  • Wat moet in jou verander?
  • Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen?
  • Na wie toe stuur die Here jou weer terug?

Deel met mekaar in kort.