Inleiding

Lukas het nou by Paulus, Silas en Timoteus aangesluit in Filippi (hy skryf nou weer in die eerste persoon, ons),'n Romeinse kolonie in Masedonië.  Dit is ongeveer 50 of 51 n.C.  Daar was nie 'n sinagoge nie (jy het 10 mans nodig gehad daarvoor) en daarom het die Joodse gelowiges, ons lees hier net van vroue, moontlik getroud met Grieke, by 'n bidplek by die rivier, die Gangitis, vergader.

Die eerste Europeër wat glo, is 'n vrou

En dan gebeur die wonder, die hele Europese kerkgeskiedenis begin met 'n eenvoudige verhaal van 'n vrou, nogal ryk ook, wat langs 'n rivier in Jesus begin glo.  Ironies dat 'n Masedoniese man Paulus in 'n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling 'n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.

Dit is interessant hoe God ongewone mense gebruik in die verspreiding van die evangelie na nuwe gebiede.  In Afrika was dit 'n Ethiopiese ontmande. In Europa was dit 'n Grieks-Joodse vrou.  Dit is asof God sulke mense kies om van die begin af te wys dat HÝ agter die diversiteit in mense staan en verandering bring van die periferie af om só 'n sterk eenheid tussen diverse mense te smee.

Sy nooi Paulus-hulle onmiddellik na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament.  Daar is geen gemeente wat die apostel so hoog geroem het as dié van Filippi nie en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie.

Ons lees regdeur die brief aan die Filippense hoe Paulus hierdie eerste Europese gemeente liefgehad het en dat hulle hom terug liefgehad het.  Geen wonder dat die brief so vol van vreugde en blydskap is nie, en daarby 'n oproep is aan almal is om dié vreugde oral te versprei.

Soos met die proseliete-doop vir heidene wat die Joodse geloof aanneem, word Lidia se huismense (oikos) ingesluit toe sy gedoop word as een wat in Jesus glo.  Interessant is dat kinders ingesluit is en dat dit onmiddellik gebeur het.

Paulus mors dus nie tyd nie - wanneer jy met hou hele hart glo, is jy alreeds 'n deel van die liggaam van Christus, en moet jy daarom gedoop word.  Geen kategese nie, net geloof in Christus.

'n Slavin word bevry

En soos in alle vorige plekke waar die evangelie verkondig is, bly die teenstand nie uit nie.  Geen goeie ding gebeur immers ooit sonder dat die magte van die bose monster om dit te dwarsboom nie!

Die slavin met ‘n waarsêergees is die eerste teenstand.  Die woord wat gebruik word vir die waarsêergees, is puthon-gees.  Die Puthon was die mitologiese slang of draak wat die orakel of tempel van Delphi bewaar het en deur Apollo doodgemaak is.  Blykbaar het mense onder die invloed van dié gees met buikspraak gepraat, d.w.s. sonder dat hulle lippe beweeg het.

Maar, Paulus dryf, na 'n paar dae, die gees uit haar uit, wat waarskynlik beteken dat sy die tweede lidmaat van die gemeente was.

Die eerste hindernis, die slawemeisie, demonstreer op geen onseker wyse nie, dat God sterker is as die magte van die duisternis.  Maar die oorlog het natuurlik nog net begin!

'n Tronkbewaarder word gered

Met die konsternasie wat haar eienaars vir Paulus veroorsaak, want die slavin het nou nie meer geld ingebring nie, verskerp die teenstand en word hulle in die tronk gegooi.

Net om daar die derde lidmaat van die gemeente tot bekering te bring, die tronkbewaarder.  Hy en sy huisgesin (oikos) word ook gedoop en Paulus-hulle word in 'n volgende huis gasvry ontvang.  Interessant dat die Romeine Brutus en Cassius juis in Filippi selfmoord pleeg, soos ons lees dat die bewaarder wou doen om sy eer te red.  Jesus red hom egter van homself en daarby ook sy huisgesin.

Die tweede hindernis, die stadsraad wat Paulus en Silas in die tronk gooi, word dus nie net oorkom deurdat die aardbewing die deure van die tronk oopforseer nie, maar die tronkbewaarder self kom tot bekering, hy en sy hele huis, en hulle word gedoop.

Die eerste gemeente in Europa word gestig

Aan die einde van die verhaal, sien ons dat hulle almal weer bymekaar kom in Lidia se huis.  En die grondslag vir die eerste gemeente is gelê.

Paulus sou hulle nog twee keer besoek (20:1 en 6) en uiteindelik die pragtige brief aan die Filippense skryf uit die tronk in Rome.  En hulle sou hom die meeste kere ondersteun van alle gemeentes wat Paulus ooit gestig het.  Die eerste lidmate van hierdie pragtige gemeente begin dus hulle lewe in die huis van Lidia en word die grootste ondersteunersgroep van Paulus in die res van sy bediening.

Wat leer ons uit die verhaal?

1.  As jy oor grense beweeg, is jou lewe nie meer net in jou hande nie.

Walls, kruis-kulturele ekspert, sê kategories: "The fundamental missionary experience is to live on terms set by others."

En ons moet dit baie goed besef.  Want dit kos jou iets.

Paulus is hier afhanklik van mense se gasvryheid.

Die goeie wat hy doen, is nie noodwendig goed in ander se oë nie, veral nie in die eienaars wie se inkomste hulle ontneem is deur die slawemeisie wat nie meer kon waarsê nie.

Die boodskap het ook onbeplande gevolge: die stadsbestuur laat hulle op sleeptou neem deur die eienaars van die slawemeisie en Paulus en Silas, lyk asof die ander twee te jonk was of nie prominent genoeg nie (Timoteus en Lukas), beland in die tronk.

Die vrug op die evangelie kom deur konflik heen, deur baie teenstand, deur lyfstraf en met jou voete in houtblokke in die tronk.

Dit sal ook nooit anders wees vir ons nie - om die evangelie te lewe, is om dit te lewe op die terme wat ander mense stel.  En die konflik en hindernisse en lyding wat daarmee gepaard gaan, moet ons nie afskrik daarvan om die veilige grense van ons gemeentelike lewe te oorskrei nie.

Maar dit is gelukkig ook net so waar:

2.  As jy oor grense beweeg met die evangelie, is jou lewe in God se hande.

Die onbeplande gevolge van die tronk word deur God getroef deur 'n aardbewing en die oopgaan van die tronkdeure en die vernederende verskoning-vra van die stadsbestuur.

En God skep met die skraal begin van 'n paar vroue en 'n tronkbewaarder een van die mooiste gemeentes van die antieke tyd.

Sonder dat jy jou voet oor 'n ander se drumpel sit, en toelaat dat jou lewe ook deur daardie persoon se optredes bepaal word, goed of sleg, sal jy ook nie ervaar dat jou lewe en die lewe van ander mense in God se hande is nie.

As lyding en teenstand deel is van die evangeliese lewe, dan is dit net so waar dat grensoorskreiding jou in die hande van God plaas wat in staat is om jou te bewaar en vrug te gee op jou boodskap en getuienis.

3.  As jy oor grense beweeg met die evangelie, raak mense van anderkant die grense deel van die gemeente van God.

Die kerk is die fees van die vereniging van andersins onversoenbare entiteite.  Die gemeente in Filippi word van die begin af uit 'n diverse groep mense saamgestel.  Die eerste drie gemeentelede (kom ons aanvaar dat die slawemeisie deel van die gemeente geword het) was baie verskillend:

  • ekonomies: arm (slawe-meisie), middelklas (tronkbewaarder) en ryk (Lidia);
  • gender: 'n paar vroue en ‘n man;
  • generasies - Lidia en haar gesin, die tronkbewaarder en sy gesin;
  • etnies: ten minste ‘n Romeins en ‘n Griekse Jood en nog ‘n onbekende etnisiteit (slawemeisie)
  • en polities: tronkbewaarder, Grieks-Joods vrou en slawe-meisie.

Dit moet ons laat kyk na ons bediening.  As ons te eenders lyk, skuif ons nie genoeg oor die grense nie, en ek bedoel nou ekonomies, sosiaal, ouderdom, polities ens.

Om mee af te sluit - die hele konsep van die kerk is gefundeer op die eenheid van diverse mense op basis van hulle geloof in Jesus Christus.  Dit was die boodskap van die Pinkster ervaring, dat die Gees van God uitgestort is op mense van al die nasies van die wêreld wat vergader was in Jerusalem op Pinksterdag.

Dit beteken dat ons nie net gender en generasie en etniese en kulturele grense moet oorskrei nie, maar dat ons ook daarna moet strewe om almal in een liggaam te verenig.  Want dit is die motivering vir die wêreld om te glo dat Jesus inderdaad God is en in staat is om ons almal met God en mekaar te versoen.