Petrus Chenalatus, ‘n notaris van Genève wat Johannes Calvyn se testament opgestel het, skryf in die Institusie van Calvyn, dat Calvyn nog gelewe het:

"op 19 Mei toe ons bedienaars onderlinge sensuur beoefen het en, soos gewoonlik, as teken van vriendskap saam geëet het. Dit was twee dae na Pinkster en die daaropvolgende nagmaal van die Here. Op dié dag het hy ingewillig dat die gebruiklike ete by sy huis voorberei word. Hy is uit sy bed na die kamer langsaan gebring en hy het al sy kragte ingespan en gesê: "My broeders, dit is die laaste keer dat ek met u saamkom. Hierna sal ek nooit weer saam met u by die tafel aansit nie". Dit was vir ons die begin van 'n baie treurige maaltyd. Hy het nogtans voorgegaan in gebed en selfs 'n bietjie geëet en tydens die ete sy gesprek, sover hy kon, op blymoedigheid ingestel. Toe die ete nog nie klaar was nie, het hy versoek om na die aangrensende kamer geneem te word. Daarop het hy ons byeenkoms met 'n stralende gelaat toegespreek en gesê: "Die muur tussen ons sal nie verhinder dat ek met die gees by julle is nie, al is ek na die liggaam nie hier nie".

Hy sterwe uiteindelik op die 27ste Mei op 54 jaar, 10 maande en 17 dae.

Calvyn, Johannes ;  Simpson, H.W., vertaal deur ;   Brink C.M.M., vertaal deur: 
Institusie van die Christelike godsdiens. Potchefstroom : Calvyn-Jubileum
boekefonds, 1998, c1991, I