Ek is oortuig dat die grootste verskil wat die evangelie maak, nie lê in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Daar is baie tyd en energie al in die kerk gespandeer aan die innerlike lewe, stiltetyd en hoe ‘n mens prakties jou geestelike lewe lei.  En dit is reg en goed.

Dit is egter in die verhoudings tussen mense waar ware gemeenskap gebeur. En daarvoor het ons mekaar nodig. Ons moet leer wat dit beteken om die grense na mekaar oor te steek; hoe ons mekaar moet insluit; hoe ons mekaar moet uitdaag en vir mekaar ‘n voorbeeld stel om die grense na ander oor te steek.

Ons mens-wees kom mos eintlik net tot sy reg wanneer ons in positiewe waarderende omgee-verhoudings met ander lewe.  Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Dit is nie net waar vir ons in die kleiner kring waar ons leef nie.  Dit is ook waar van die uitbreiding van gemeentes en die vestiging van die evangelie en die koninkryk.  Geloof in Christus in ‘n spesifieke plek en deur spesifieke mense het reg deur die geskiedenis te make met die bereidheid van gelowiges om grense na ander oor te steek.

In dié mate wat die Woord gestalte kry in ‘n gemeenskap, in dié mate brei die invloed van Christus uit of krimp dit in.  Die effektiwiteit en weerstandigheid van die Christelike geloof is direk verbind aan gelowiges en gemeentes se vermoë tot: "acts of cultural translation by which the Christians of any community make their faith substantial within that community" (Walls The Cross-cultural process in Christian History, 13).

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.  Telkens as die invloed van Christus ingekrimp het, bv. in die eerste gemeente van Jerusalem na die eerste vervolging, het daar lewe van die randte gekom, gewoonlik waar ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. lees met die ontstaan van die gemeente in Antiochië, weens die getuienis van onbekende Joodse gelowiges van Ciprus en Griekeland. (Hand 11:19-20).

Hierdie Pinkster is daarom ‘n uitdaging aan elke lidmaat wat die Pinksterweek bywoon.  ‘n Uitdaging om in dié week 'n reis saam met die gemeente te onderneem.  Ons noem die reis: Stap met Jesus oor grense. Vir 10 dae gaan elkeen fokus op die mense wat oor julle pad kom.  Elke aand gaan jy dan begelei word om te gesels daaroor en te probeer agterkom wie dit is wat die Here oor jou pad stuur.

Omdat sulke ontmoetings met mense geskenke uit die hand van die Here is, vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons gaan praat oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.

Telkens gaan ons ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.

Kortom - ons gaan op reis met mekaar om 'n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.

Om dié stap oor grense Bybels te fundeer, gaan ons fokus op 5 verhale uit Jesus se lewe waar Hy grense oorgesteek het, en 5 verhale uit die vroeë kerk se lewe waar die Gees hulle oor grense gestuur het.

Mag dié reis ons by ‘n soortgelyke en selfs beter landwye herlewing bring as met die Herlewing van 1860 waar hierdie Pinksterbidure sy aanvang geneem het!

Daar is altyd ‘n wêreld
Wat jy nog nie ken nie
Daar is altyd ‘n taal
Wat ons nie verstaan
Een deel van jouself
Waarvan jy vergeet het
Daar is altyd ‘n pad
Wat jy nog kan gaan
Daar's altyd ‘n lewe wat jy nog kan leef
Daar's altyd ‘n grens om verby te beweeg

Stef Bos - Komatiepoort 2009